top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

40. WAT GLO ONS AS KATOLIEKE OOR DIE HIERNAMAALS EN DIE LAASTE OORDEEL?

 

As Katolieke glo ons dat elke mens oor ’n ewige siel beskik. By ons afsterwe word hierdie siel van die liggaam geskei en hou hierdie siel aan met bestaan alhoewel die liggaam self dood is. Ons glo dat elke mens ná sy of haar dood geoordeel sal word. By hierdie Laaste Oordeel sal elke persoon se ewige bestemming bepaal word op grond van ’n ondersoek na sy of haar aardse lewe en of die betrokke persoon waarlik berou het oor sy of haar sondes en Jesus nagevolg het as die Here en Verlosser van sy of haar lewe – al hierdie dinge geskied deur God se genade. Aan die einde van die tyd sal Jesus met mag en heerlikheid terugkeer om by sy Wederkoms die wêreld te oordeel. By hierdie oordeel sal die regverdiges ’n nuwe, verheerlikte en opgestane liggaam ontvang. As Katolieke glo ons dat ons ten alle tyd vir die dood gereed moet wees. Ons hele aardse lewe kan opgesom word as ’n voorbereiding op ons sterwensuur.

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘ Wanneer die verheerlikte Christus aan die einde van die tyd kom om die lewendes en dooies te oordeel, sal Hy die verborge gesindheid van ons harte blootlê en elke mens sy/haar loon gee in ooreenstemming met sy/haar werke en ooreenkomstig die feit of die betrokke mens tydens sy/haar aardse lewe God se genade aanvaar of verwerp het.’ (Par. 682).

 

‘Ons glo vas daarin, en ons hoop ook, dat net soos Christus waarlik uit die dood verrys het en vir altyd lewe, die regverdiges ook ná hul dood vir altyd met die verrese Christus sal lewe en dat Hy hulle sal laat opstaan op die laaste dag. Net soos Christus se eie verrysenis sal ook ons opstanding die werk wees van die Allerheiligste Drie-eenheid: ‘En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.’’ (Rom. 8:11). (Par. 989).

 

‘Die Heilige Kerk van Rome glo en bely vas dat op die dag van die oordeel alle mense met hul liggaam voor die regterstoel van Christus sal verskyn om verantwoording te gee van hul dade.’ (Par. 1059).

 

‘ Aan die einde van die tyd sal God se Ryk sy volheid bereik. Dan sal al die regverdiges, verheerlik in siel en liggaam, saam met Christus vir altyd heers, en die stoflike/materiële wêreld sal omvorm word. God sal dan ‘alles in almal’ (1 Kor. 15:28) in die ewige lewe wees.’ (Par. 1060).

 

Lees gerus: Daniel 7:10; Maleagi 3:19; Matteus 3:7-12; Matteus 5:22; Matteus 7:1-5; Matteus 11:20-24; Matteus 12:32; Matteus 25:31-46; Markus 12:38-44; Lukas 12:1-3; Johannes 3:18-21; Johannes 5:22; Johannes 6:39-40; Johannes 12:48; Romeine 2:16; Romeine 8:11; 1 Korintiërs 3:12-25; 1 Korintiërs 4:5; 1 Korintiërs 6:13-20; 1 Korintiërs 15:11-58; 2 Korintiërs 4:14; Filippense 3:10-11; 1 Tessalonisense 4:14; 2 Tessalonisense 1:10; Titus 2:13; Hebreërs 6:4-6; Hebreërs 10:26-31.

​

​

  << Previous    |     Next >> 

​

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page