top of page

B  L  O  C  K  S

(Small Christian Communities)

ST. JANE FRANCES DE CHANTAL

(Lemoendraai)

Block Leier/Leidster:  Mej. Nancy Blaauw

Getal van die Katolieke Huisgesinne: 

Getal van die Katolieke: 

Kloosterling

Feesdag: 12 Augustus

 

Sint Jeanne was die dogter van Bénigne Frémyor, president van die parlement van Boergondië en ‘n gesiene man in Frankryk. Haar moeder het haar op vroeë ouderdom ontval, maar haar vader het seker gemaak dat sy kroos aan niks, in terme van opvoeding en veral religieuse formasie, tekort geskiet het nie. By haar vormsel neem Jeanne die naam Frances. Op twintigjarige ouderdom is sy in die huwelik gegee aan Christopher de Rabutin, Baron de Chantal, ‘n offisier in die leër. Die troue het in Dijon plaasgevind en ‘n paar dae daarna vertrek die pasgetroude jong paartjie na die baron se landelike setel by Bourbilly.  

 

Die jong aanvallige barones wy haarself nou met onvoorwaardelike Christelike liefde toe aan die landgoed van haar man en hul vinniggroeiende gesinnetjie. 

 

 

Hierdie byna idilliese bestaan in Bourbilly hou egter slegs nege jare. Op ‘n dag in 1601 word baron de Chantal tydens ‘n skietongeluk gewond – die wond raak kwaadaardig en binne nege dae beswyk hy. Aanvanklik gaan bly Jeanne by haar vader in Dijon – later stuur sy haar kinders om in die huishouding van haar skoonvader in Monthelon opgevoed te word.

 

Syself bly in haar vader se huis in Dijon en begin haarself al hoe meer toespits op die ontwikkeling van die geestelike lewe. Tydens die Vastyd in 1604 kom preek Sint Frans van Sales in Dijon. Dié heilige se boodskap laat onmiddellik ‘n diepe indruk by Jeanne. Sy plaas haarself onder Sint Frans se geestelike leiding en deel hom haar begeerte mee om by die plaaslike Karmelitiese klooster aan te sluit. Sint Frans beveel haar aan om ‘n rukkie te wag voordat sy finaal ‘n besluit neem. Oplaas vertel hy haar in 1607 van die projek wat hy beoog en waarin hy ‘n rol vir haar gewaar. En so stig hulle saam die Kongregasie van die Visitasie van die Maagd Maria. Op Drie-eenheidsondag in 1610 is dié nuwe stigting in ‘n huis aan die oewer van die Annecymeer ingewy met Sint Jeanne en twee ander vrouens as die eerste susters. Die nuwe stigting het aanvanklik baie teenstand van die gevestigde ordes in die buurt gekry en dit het baie volharding en gebed aan die kant Sint Jeanne en haar nonne gekos om die huis deur die moeilike eerste jare te sien. Dit was vir dié groepie moedige vroue dat Sint Frans sy beroemde geskrif “Oor die liefde van God” geskryf het. Binnekort het die situasie baie gunstig vir Sint Jeanne en haar nonne geword en kon hulle huise open in Lyons, Moulins, Grenoble, Bourges en ook Parys waar Sint Jeanne vir drie jaar die huis bestuur het onder die bekwame geestelike leiding van Sint Vincent de Paul. Die dood van Sint Frans in 1622 was ‘n swaar slag vir haar en dit is deur nog ‘n tragedie gevolg toe haar seun in 1627 gedood is tydens ‘n geveg teen die Engelse en Hugenote op die eiland van Ré. Sint Jeanne se laaste jare is gewy aan die oprigting van nuwe kloosters en die konstante verbetering van haar en haar nonne se geestelike lewens. Sy sterf op die 13de Desember, 1641 in die ouderdom van 69jaar. Sy is naby Sint Frans begrawe en in 1767 heiligverklaar.

 

bottom of page