top of page

B  L  O  C  K  S

(Small Christian Communities)

ST. ANTHONY OF PADUA

(West-dene)

Block Leier/Leidster:  Mej. Antonia Jaar

Getal van die Katolieke Huisgesinne: 

Getal van die Katolieke: 

Priester en kerkleraar

Feesdag: 13 Junie

 

St. Antonius is in die jaar 1195 in Lissabon, Portugal, gebore as Fernando Martin de Bulhom. Sy vader was 'n ridder aan die hof van koning Alfonso II. Hy ontvang sy opvoeding aan die katedraalskool in Lissabon en op 15 jaar tree hy in by die klooster van die Augustynse Koorhere by Coimbra. Daar studeer hy teologie totdat hy in 1220, diep begeester deur die aankoms van die oorskot van vyf Franciskaanse martelare uit Marokko, besluit om by die Franciskaanse minderbroeders aan te sluit.

 

Hy kies die naam Antonius en gaan vol ywer na Marokko om die Evangelie onder die More te verkondig. Sy gesondheid gee egter in en hy moes noodgedwonge na Europa terugkeer. Tydens sy terugvaart beland hy op die eiland Sicilië, waarvandaan hy na Assisi in Italië gaan om die Algemene (generale) Kapittel van sy orde in 1221 by te woon. 

 

Ernstige probleme was aan die ontstaan onder die seuns van die heilige Franciscus en hierdie was dan ook die laaste Algemene Kapittel van die Franciskane wat oop was vir al die lede van die orde. Br. Elias was op hierdie tydstip die vikaris-generaal en het in dié hoedanigheid as voorsitter opgetree, terwyl St. Franciscus self ‘n nederige plek onder sy medebroeders ingeneem het. Hierdie geleentheid het ‘n diep indruk gemaak op dié jong sieklike Portugese minderbroeder. Ná afloop van die kapittel is Antonius na die afgeleë kluisenaarshut van San Paolo naby Forli. Op ‘n dag het hy ‘n priesterwyding in Forli gaan bywoon en ‘n merkwaardige ding het daar gebeur. Deur die een of ander toeval was nie een van die Dominikaanse priesters wat die homilie sou lewer daarop voorbereid nie en is St. Antonius op die laaste nippertjie gevra om te preek. Sonder huiwering en diep onder die invloed van die Heilige Gees het Antonius ingestem. Almal daar teenwoordig was diep getref deur dié jong man se ywer en welsprekendheid. Toe sy owerstes hiervan hoor is hy as prediker deur Romagna en Lombardye gestuur, waar hy talle ketters (Katare en Albigensiërs) terug gebring het na die ware geloof. Dit het hom die bynaam 'Hammer van die ketters' besorg, maar hy was nog bekender as “die Wonderwerke”.

 

Hierna het hy op verskeie plekke teologie onderrig. Hy het oor ‘n fenomenale kennis van die Bybel beskik en sy preke het beide geleerde en eenvoudige mense aangespreek. Vanweë sy besonderse Bybelkennis het pous Gregorius IX hom ‘die Ark van die Testament’ genoem. Uiteindelik het Antonius hom in die stad Padua gaan vestig waar sy teenwoordigheid ‘n diep impak op die stadslewe gemaak het. Hy het die morele lewe van die stad hervorm, die gevangenis waarin skuldlastiges aangehou is, laat sluit en baie gedoen om die armes en behoeftiges te help. Hy sterf op die 13de Junie 1231 en sy graf in Padua het gou in ‘n bedevaartsoord ontwikkel. Hy is reeds in 1232 heilig verklaar en in 1946 het pous Pius XII hom tot Kerkleraar verhef. Deur die eeue heen het voorspraak van St. Antonius sulke wonderbaarlike resultate opgelewer dat hy sy bynaam 'die Wonderwerker'  gestand gedoen het. Vandag nog roep Katolieke dikwels St. Antonius se voorspraak aan wanneer hulle iets verloor of mislê het. Volgens oorlewering het ‘n noviet eenkeer met ‘n baie waardevolle psalter van St. Antonius weggeloop. St. Antonius het hard gebid dat die psalter sou terugkeer en die noviet het ‘n skrikwekkende visioen ervaar wat hom genoop het om die boek onmiddellik aan die heilige terug te besorg. Antonius het talle visioene beleef, waarvan die bekendste dié van die Christuskind was wat in 'n stralekrans aan hom verskyn het. Hy word dan ook gewoonlik uitgebeeld in Franciskaanse py met die Christuskind in sy arms.

 

bottom of page