top of page

B  L  O  C  K  S

(Small Christian Communities)

ST. JOSEPH

(M/P Lokasie)

Block Leier/Leidster:  Mnr. Vincentius Matias

Getal van die Katolieke Huisgesinne: 

Getal van die Katolieke: 

Die Man van Maria,

die Moeder van God

Feesdag: 19 Maart

 

Sint Josef, model van geloof

 

Sint Josef is ons model van geloof. Hy het plek gemaak vir God se teenwoordigheid in sy lewe. In gehoorsaamheid aan sy woord het hy homself ten nouste verbind tot die ondeurgrondelike misterie van sy Seun. Sonder enige menslike tussenkoms het sy maagdelike Bruid ‘n kind ontvang wat God was, en hy het Hom aanbid en beskerm. Dit alles was so oorweldigend, so ver bo ons menslike begrip, en sonder geloof sou dit vir hom onuitstaanbaar geword het, ’n onmoontlike geheim. 

 

Maar hy het vas geglo dat, wanneer God tot die mens spreek, Hy ons nie bedrieg nie. Daarom het hy, sonder enige teenspraak en sonder om in allerhande vrae verstrengel te raak, God vertrou en Hom toegelaat om sy eie lewe en dié van sy verloofde s’n oor te neem.

 

Sint Josef, model van hoop

Sint Josef was hy ‘n man van hoop. Saam met hom deel ons ook in die hoop om eendag ons verlossing te sien gebeur. Ons sien hoe die Messias van God saam met hom geleef het, soos ’n seun met sy vader. Hy was ’n wonderbaarlike teken van God se goedheid en trou. En hierdie getrouheid van hom om die Wil van die Allerhoogste te doen, het vir hom ’n toekoms sonder grense geopen. 
 

Sint Josef, model van liefde

Sint Josef het ’n tuiste geskep waar liefde regeer het. Hy het Maria bemin, sy wat die Seun van God in die wêreld moes bring. Saam met haar het hy dus deelgehad aan die skoonste daad van liefde in die geskiedenis van die wêreld: Die koms van die Seun van God om die mens te verlos. God, wat liefde is, het in sy huis gewoon. Hy het ’n tafel met hom gedeel, die intimiteit van sy gesin, ook die vreugdes en moeilikhede op elke oomblik van sy lewe. 
 

Sint Josef, vader van Jesus

Die mense van Nasaret het Jesus as die seun van ‘n timmerman genoem en in die tempel het Maria vir Hom gesê: “Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek” (Luk 2: 48). 
 

Sint Josef, bruidegom van die Moeder van God

Soos in ‘n ware menslike gesin was hy Maria se man, en was sy sy vrou. Haar Hart het aan hom behoort en hy was lief vir mekaar, soos ware getroudes lief is vir mekaar, met al die aandag en besorgdheid en klein gebare wat die lewe van ’n egpaar kenmerk. Dit was ‘n sterk en diep liefde – dié liefde wat twee persone stewig met mekaar verbind sodat geen moeilikheid, geweld of enige ongeluk hulle van mekaar sal laat skei nie. 


Die Maagd Maria het aan hom haar Hart en haar liggaam toevertrou, sy het maagd gebly omdat hy saam met haar dit so gewil het. Sy wedersydse liefde het in haar maagdelikheid ‘n teken van God voor die mense geword. Adam en Eva het in die eenheid van hul liefde God verwerp; so het sy eenheid met Maria dit bewerkstellig dat Christus ons Verlosser in die wêreld gekom het. 
 

Sint Josef, man van gebed

Sint Josef, tot aan die einde van sy lewe het hy saam met Maria vir Jesus gesorg. Ook die Seun van God se persoonlikheid moes soos alle ander kinders s’n gevorm word. Volgens die Joodse tradisie was dit die taak van die vader om die Heilige Skrif aan sy kinders uit te lê en hulle die Gebooie te leer volgens die voorskrifte van die Here: “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Dt. 6,7). 
 

Sint Josef, model van die opregte mens

Sint Josef het geweet dat om waarlik mens te wees ons eers ons hart en gees in ooreenstemming met dié van God moet bring. Sy Seun het nie in die eerste plek mooi maniere en vroom gebare van hom geleer nie, maar hoe om die Wil van God te doen. Om elke dag intens bewus te wees van God se Aanwesigheid in jou lewe en om saam met Hom te lewe – dit is die hooftaak van elke menslike lewe. Net soos ’n goed ingestemde musiekinstrument die regte note weergee, so het Sint Josef sy eie lewe met dié van God laat ooreenstem. Op die oppervlak het sy daaglikse lewe miskien eenvoudig, selfs banaal, voorgekom: dieselfde handelinge wat dag na dag herhaal is, dieselfde werk en die klein bedrywighede van ’n alledaagse bestaan. 
 

Sint Josef, die goeie werker

Volgens die oorspronklike plan van die Skepper aan die begin van die wêreld was werk goed en heilig, maar die mens het homself van God verwyder en daardeur het sy werk vir hom ’n bron van moeilikheid, van vermoeidheid, van sorge en van pyn geword. Sint Josef het homself aan dié harde wet van werk onderwerp, omdat hy geweet het dat dit weer edel en skoon kon word in ooreenstemming met die plan van die Skepper. Dit was die geheim van sy lewe as werker. 

 

Sint Josef, model van gehoorsaamheid

Sint Josef se hele lewe is aaneen geweef deur u getrouheid en u gehoorsaamheid aan God. Die Evangelie begin deur ons mee te deel dat Maria swanger word toe sy aan hom verloof was. Omdat hy getrou was aan die Wet van Moses en Maria nie tot skande wou maak nie, het hy besluit om die verlowing in die geheim te verbreek. Maar toe God hom vra om haar nogtans as sy vrou te neem, was hy onmiddellik gehoorsaam. Deur daardie eerste opdrag van God te gehoorsaam het hy saam met Hom die grootse geheimenis van die Menswording van die Seun van God binnegegaan. 


’n Paar maande daarna het die Romeinse keiser opdrag gegee vir ’n volkstelling. Ook hierdie beproewing het hy met vertroue in God aanvaar. Hy het Nasaret verlaat en na Bethlehem gegaan, die stad van Dawid, waar die Seun van God gebore moes word. 


Ná die besoek van die Wyse Manne het die Here weer met hom gepraat: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te keer, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak” (Matt. 2: 13). Hy het dié groot ontwrigting van sy eie lewe in gehoorsaamheid aan God se opdrag verduur en na Egipte gegaan. In dié vreemde land het hy ’n aantal jare deurgebring totdat die stem van die Here weer tot hom gespreek het: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood” (Matt. 2: 19). Met bewonderenswaardige gehoorsaamheid het hy met sy gesin teruggekeer na Nasaret. Hierdie gebeure is genoeg om ons te oortuig van sy gehoorsaamheid aan God. Telkens was dit ’n engel wat God se boodskap aan hom oorgedra het. 

 

 

bottom of page