top of page

CATHOLIC PRACTICES

Sermon Notes  |  Church Documents   |  Devotions  |  Catholic Beliefs  |  Catholic Practices  |  Lives of the Saints  |   Sacraments  |  Registration of the Sacraments

​

​

​

KATOLIEKE ANTWOORDE

​

BEKENDSTELLING VAN KATOLIEKE ANTWOORDE-REEKS

 

Hiermee stel ons ’n nuwe apologetiese reeks artikels getiteld ‘KATOLIEKE ANTWOORDE’ aan ons lesers bekend. As Afrikaanssprekende Katolieke lewe ons nie net in ’n kultuur en samelewing wat oorweldigend nie-Katoliek is nie, maar ook dikwels baie anti-Katoliek. Alhoewel die dae toe Katolieke outomaties as staatsvyande, die Roomse Gevaar, gesien is, hopelik finaal op ’n end is, bevind ons onsself in ’n gemeenskap wat oor die algemeen onkundig staan oor die basiese beginsels van die Katolieke geloof. Daar is selfs mense wat hulself as Christene beskou wat sal ontken dat die Katolieke Kerk ’n Christelike kerk is.

 

Hierdie verbasende onkunde is feitlik ongeloofbaar in die lig van die ware geskiedenis: Die Katolieke Kerk is nie net ’n Christelike kerk nie, dit is dié Christelike Kerk by uitstek. Omdat daar min Katolieke leesstof (en weinig publikasies) in Afrikaans bestaan en omdat die meeste Afrikaanse Katolieke nie hul skoolopleiding aan Katolieke instellinge ontvang nie, vind ’n mens dikwels grootskaalse onkunde oor hul eie geloof onder baie Katolieke – ’n kommerwekkende situasie omdat dit mense vatbaar maak vir anti-Katolieke propaganda. Afrikaanse Katolieke wat ernstig is oor hul geloofslewe is baiekeer afhanklik van publikasies van ander kerke wat vanuit ’n spesifieke oogpunt geskryf is en ongelukkig ’n mens se eie Katolieke geloof kan ondermyn. Dit is veral die geval met Bybelstudie-kursusse waar die basiese (onBybelse) Protestantse beginsel van sola Scriptura (alleenlik die Skrif) dikwels geld.

 

Hierdie publikasie maak geensins daarop aanspraak om ’n volledige of sistematiese uiteensetting van die Katolieke geloof te gee nie. Dit probeer egter ’n aantal algemene vrae wat Katolieke en nie-Katolieke gereeld vra te beantwoord. Elke antwoord word voorsien aan die hand van gepaste Bybeltekste en dikwels ook gedeeltes uit die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK. Dit is die Katolieke Kerk wat die Nuwe Testament geskryf het en die Heilige Skrif (soos ons dit vandag ken) saamgestel het. Dit is die Katolieke Kerk wat die Bybel deur die eeue heen bewaar en getrou van een geslag na die volgende oorgelewer het. Sonder die Katolieke Kerk sou Martin Luther en die ander sogenoemde hervormers nie die Heilige Skrif gehad het om hulself op te beroep nie. Met die Protestantse rewolusie teen die Kerk in die 16de eeu is die manier waarop Christene vir 1500 jaar lank die Bybel gelees en verstaan het radikaal verander. Die verskillende groepe wat onder die breë term van Protestante bekend staan het eintlik ’n nuwe geloof begin wat min in gemeen gehad het met dié van die Apostels en die vroeë Kerk.

 

’n Nuwe konsep wat nie net onBybels was nie, maar die vroeë Christene totaal sou stomgeslaan het, het nou die Christendom binnegekom: Sola Scriptura, die menslike idee dat die Heilige Skrif gesag op sy eie het - hierdie was (en is nog steeds) net ’n verskoning vir mense om die Bybel te interpreteer soos dit hulle pas (nêrens in die Bybel staan dit dat die Bybel alleen voldoende is nie – onthou waar daar in die Nuwe Testament van die Heilige Skrif gepraat word, word die Joodse Bybel, m.a.w. die Ou Testament bedoel). Onthou dat onse Here Jesus Christus nie ’n enkele geskrif nagelaat het nie; wat Hy wel nagelaat het was ’n organisasie: Die Katolieke Kerk! Die verdere geskiedenis van die Protestantisme is ’n les vir ons oor die gevaarlike gevolge van ’n persoonlike interpretasie van die Bybel – die suiwer kerk wat Luther wou stig het in sy eie leeftyd (op ’n baie onsuiwer manier) begin verbrokkel en hierdie proses van versplintering het nou nog nie opgehou nie (daar bestaan vandag meer as 25 000 Protestantse kerke en sektes en elkeen maak daarop aanspraak dat hul interpretasie van die Bybel die korrekte een is).

 

Teenoor hierdie verwarrende situasie staan die een Katolieke Kerk wat die Bybel as God se Woord en die Kerk se Handboek vereer. Dit is die Kerk en die Kerk alleen wat die Bybel kan interpreteer omdat die Bybel uit die lewe van die Kerk (wat ouer is as die Nuwe Testament) ontstaan het en slegs in die lig van hierdie lewe - ’n tweeduisendjarige Tradisie, wat teruggaan na die Apostels - gelees en begryp kan word. Alhoewel die sogenoemde Nuwe Vertaling van die Bybel (die 1983 Vertaling) nie sonder meriete is nie, word daar in dié publikasie deurgaans van die 1953 Vertaling van die Bybel met Deutero-Kanonieke Boeke gebruik gemaak omdat dié vertaling oor die algemeen (met die uitsondering van ’n paar vertalingsflaters) die tradisionele Christelike (m.a.w. Katolieke) teologie beter uitdruk.

​

​

Go to the FREQUENTLY ASKED QUESTIONS ABOUT THE CATHOLIC FAITH AND PRACTICES

​

​

bottom of page