top of page

B  L  O  C  K  S

(Small Christian Communities)

ST. MARGARET MARY ALACOQUE

(Smarties 5 & 6)

Block Leier/Leidster:  Mev. Lavinia Isaacks

Getal van die Katolieke Huisgesinne: 

Getal van die Katolieke: 

Maagd

Feesdag: 16 Oktober

 

Marguerite-Marie is in die jaar 1647 in Janots, ‘n klein dorpie in Boergondië (Burgundy), in Frankryk, gebore. Sy was die vyfde kind in ‘n gesin van sewe. Op die ouderdom van agt is haar vader oorlede en is sy na die Klooster van die Klarisse gestuur om daar haar skoolopleiding te ontvang. Onmiddellik het daar by haar ‘n diepe liefde ontstaan vir dié wonderlike eenvoudige en godvresende nonne en hul nederige en armoedige leefwyse. Op hulle beurt was hulle so beïndruk met die jong meisie se opregte vroomheid en innemende geaardheid dat hulle besondere aandag aan haar geestelike formasie gegee het.

 

Twee jaar na haar aankoms blyk dit egter dat Marguerite-Marie rumatiekkoors onder lede het. Hierdie pynlike siekte sou haar tot en met haar vyftiende verjaarsdag bedlêend maak.

 

Ondertussen is sy ook terug huistoe gestuur waar haar een suster en dié se man haar ouerhuis oorgeneem het. Dié suster en swaer het beide Margaruerite-Marie en haar moeder soos bediendes behandel en dié twee arme vroue sou baie jare hierdie ondraaglike toestand moes verduur. Daar is ook nou groot druk op die jonge Marguerite-Marie geplaas om in die huwelik te tree. Sy het egter volstrek geweier en verklaar dat haar lewe slegs haar Here toekom. Uiteindelik is sy in 1671 toegelaat om die Klooster van die Visitasie in Paray-le Monial te betree.

 

Sy het haarself al hoe meer in haar gebedslewe verdiep en gevind dat die Here Homself aan haar op tasbare wyse begin bekend maak het. Marguerite-Marie het haar geestelike ontwikkeling veral aangewakker deur alle wêreldse begeertes af te sterwe en deur selfopgelegde loutering haar gedagtes hemelwaarts te rig. En toe op die 27ste Desember, 1673 ondervind sy die eerste van ‘n reeks Goddelike verskynings. Sy was soos gewoonlik aan die kniel voor die tralies, besig om die Allerheiligste Sakrament wat op die altaar uitgestal was te aanbid. Skielik het sy intens bewus geword van die Here se aanwesigheid en kon sy Hom duidelik met haar hoor praat. Ten spyte van die feit dat sy so oorweldig en oorstelp gevoel het, kon sy nog haar God hoor spreek. En wat het Onse Here dié geseënde vrou vertel? Jesus het aan Marguerite-Marie openbaar dat Hy haar uitverkies het om ‘n dissipel van sy Heilige Hart te wees en om mense tot ‘n liefde jeens sy Hart aan te moedig. Hy het haar meegedeel dat sy Hart in die vleeslike vorm vereer moet word – dié vorm wat vandag so bekend is by alle Katolieke wêreldwyd, maar wat op daardie tydstip ‘n hele nuwe manier van aanbidding was. Vir die volgende agtien maande is Sint Marguerite-Marie dikwels deur hierdie verskynings geseën en het Onse Here sy boodskap aan haar telkens herhaal en verduidelik. Sy is aangemoedig om mense bewus te maak dat die gereelde ontvangs van Heilige Kommunie groot genadegawes inhou. ‘n Mens moet onthou dat gereelde Heilige Kommunie in daardie tyd maar redelik seldsaam was. Jesus het die praktyk van Heilige Kommunie veral op die eerste Vrydag van die maand, asook ‘n uur se waak voor die uitgestalde Sakrament elke Donderdagaand aangemoedig. Vandag het Katolieke hierdie gebruike hul eie gemaak deur die devosies van die Nege Vrydae en die Heilige Uur praktyk. Die finale verskyning van Onse Here aan haar het in die Corpus Christi oktaaf in 1675 gebeur. Sy woorde aan haar was as volg:  “ Aanskou die hart wat die mens so liefgehad het, dat niks ontsien is om die mens te help nie – dié hart wat Homself vermoei en oorgegee het ter wille van die mens. En nou kry Ek in plaas van dankbaarheid slegs onverskilligheid, deur die koudheid en hoon waarmee mense My in die Liefdessakrament bejeën”. Hierna het Hy haar gevra om seker te maak dat ‘n fees ter ere van Sy Heilige Hart ingestel word op die Vrydag na die Corpus Christi oktaaf (tans die Fees van die Heilige Hart). En hierdie was die boodskap wat Sint Marguerite-Marie aan haar moeder-owerste oorgedra het. Aanvanklik was daar diegene binne haar gemeenskap wat redelik skepties gestaan het teenoor dié verskynings. Die aankoms van Claud la Colombiére as geestelike voorligter en biegvader en sy onmiddellike gewaarwording dat Marguerite-Marie allermins gehallusineer het of ‘n leuenares was, het alle teenkanting gou in die kiem gesmoor. Die nonne het later ‘n kapel ter ere van die Heilige Hart in Paray laat bou en binnekort het dié devosie deur die Visitandynse Orde versprei. Binne enkele jare was dié besonderse devosie oor die hele Frankryk te vinde en so het dit later die hele Katolieke wêreld met liefde laat ontbrand. Marguerite-Marie is in 1690 oorlede – sy is in 1920 tot heilige verklaar.

 

 

 

 

 

bottom of page