B L O C K S
(Small Christian Communities)
DIE HEILIGSTE HART VAN JESUS
Die devosie tot die Heilige Hart van Jesus is amptelik deur pous Clemens XII in 1765 erken en goedgekeur. Dit was vyf en sewentig jaar ná die afsterwe van Sint Marguerite-Marie Alacoque aan wie Christus verskyn het en sy Heilige Hart as simbool van sy liefde vir die mens openbaar het. In 1794 vaardig pous Pius VI ‘n dekreet uit waarby dié devosie goedgekeur word en aflate verleen word aan diegene wat dit beoefen.
Vir pous Leo XIII het die “groot daad” van sy pontifikaat, soos hy dit self genoem het, op 11 Junie, 1899, plaasgevind toe hy plegtig die ganse mensdom aan die Heilige Hart van Jesus opgedra het.
Die Nege Eerste Vrydae Devosie
Onse Here het self die eerste Vrydag van elke maand aangedui as ‘n dag wat ter ere van sy Allerheiligste Hart toegewy moes word. Die doel van hierdie devosie is dat mense Jesus se Heilige Hart al hoe vuriger en volmaakter sal liefhê en daardeur ware eerherstel aan Hom sal bied vir al die laster, onverskilligheid en nalatigheid wat Hy in die Allerheiligste Sakrament van die Altaar verduur.
Die Groot Belofte is eenvoudig dié seëning wat alle ander oortref,om in ‘n genade toestand,in God se vriendskap, te sterwe.
Om aan onse here se versoek te voldoen is daar net TWEE voorwaardes wat nagekom moet word:
1. Bieg - om seker te maak jy is in 'n Toestand van Genade;
2. Heilige Kommunie - om op nege agtereenvolgende eerste Vrydae dit waardiglik te ontvang met die doel om daardeur Eerherstel aan die Heilige Hart van Jesus te bied.
Die volgende Eerste Vrydag devosies is van groot nut ter ere van die Allerheiligste Hart van Jesus:
1. Aanbidding van die Allerheiligste Sakrament;
2. Akte van Toewyding aan die Heilige Hart van Jesus;
3. Litanie ter ere van die Heilige Hart van Jesus.
Die Twaalf Beloftes van die Heilige Hart van Jesus aan St. Marguerite-Marie Alacoque
1. Ek sal hulle al die genade gee wat hulle vir hul lewensstaat benodig.
2. Ek sal vrede bring in hul gesin.
3. Ek sal hulle in moeilikhede vertroos.
4. In hul lewe, en veral in hul dood, sal Ek hul toevlug wees.
5. Ek sal alles seën wat hulle onderneem.
6. Sondaars sal in My Hart die bron en eindelose oseaan van barmhartigheid vind.
7. Louwarm siele sal vurig word.
8. Vurige siele sal gou groot volmaaktheid bereik.
9. Ek sal dié plekke seën waar die afbeelding van My Heilige Hart vertoon en vereer word.
10. Ek sal Priesters die krag gee om versteende harte aan te raak.
11. Almal wat dié devosie bevorder sal hul name vir ewig in My hart opgeskryf hê.
12. * Deur die oorvloedige barmhartigheid van My Hart belowe Ek dat My almagtige liefde die volgende sal gee: Aan almal wat Heilige Kommunie op die Eerste Vrydae van nege opeenvolgende maande ontvang die genade van finale berou; hulle sal nie in My onguns sterf sonder om die Sakramente te ontvang nie; en in hul sterwensuur sal My Goddelike Hart hul veilige toevlug wees.
NB: Dié Belofte is geen plaasvervanger vir die uitleef van die Gebooie, en die nakoming an 'n mens se lewenspligte, en van gebed en die Sakramente nie.