top of page

B  L  O  C  K  S

(Small Christian Communities)

ST. JOSEPHINE BAKHITA

(Soweto)

Block Leier/Leidster:  Mnr. Rodney Oarum

Getal van die Katolieke Huisgesinne: 

Getal van die Katolieke: 

Kloosterling

Feesdag: 08 Februarie

 

Wat Josephine se oorspronklike naam was, kon sy nie meer onthou nie. Sy is as jongmeisie deur slawehandelaars gevang en 'n aantal kere in die verskriklike slawemarkte van El Obeid en Khartoem verkoop. Sy het die naam Bakhita ontvang, wat 'die voorspoedige' beteken. Ná jare se mishandeling as slavin is sy uiteindelik opgekoop deur die Italiaanse konsul, Callisto Legnani.

 

Vir die eerste keer in haar lewe het sy in aanraking gekom met Christelike medelye en barmhartigheid. Toe Legnani se ampstermyn in die Soedan verstreke was en hy moes terugkeer na Italië het Bakhita hom gesmeek om haar saam te neem. Hy het haar aanvanklik in die sorg van 'n familie in Genoa geplaas en later het die Canossiaanse Susters van die Instituut van Kategumene in Venesië, hulle oor haar ontferm. By dié Susters het Bakhita vir God leer ken – deur die Christelike goedheid van die Italiaanse konsul het sy Jesus Christus in haar lewe begin ervaar sonder om te weet Wie Hy was. Nou kon sy onder die liefderyke sorg van die Canossiaanse Susters formeel kategese onderrig ontvang. Sy is in Januarie 1890 gedoop en het die naam Josephine geneem. 

 

Van daardie dag sou mense haar dikwels by die doopvont sien staan, terwyl sy saggies geprewel het: 'Hier het ek 'n dogter van God geword'. Onmiddellik het sy aansoek gedoen om by haar geliefde Canossiaanse Susters in te tree. In 1896 het sy haar plegtige geloftes afgelê. Vir die daaropvolgende vyftig jaar het sy haarself daarop toe gelê om 'n ware suster van Jesus Christus te word. Gou het die plaaslike mense haar die Madre Moretta (swart moeder) gedoop. As portier van die klooster het sy haar pligte ernstig opgeneem en alles in haar vermoë gedoen om al die siekes en behoeftiges te help wat om bystand kom aanklop het. Josephine se nederigheid en eenvoud en pragtige glimlag het almal wat met haar in aanraking gekom het opgeval. Wanneer mense haar gevra het hoe dit met haar gaan, het sy gewoonlik geantwoord: 'Net soos die Meester dit wil hê.' Moeder Bakhita sterf op 8 Februarie, 1947 in die Canossiaanse klooster by Schio, omring daar al haar susters. Sy is op 17 Mei 1992, salig verklaar en op 1 Oktober, 2000, het pous Johannes Paulus II haar tot heilige verklaar.

 

 

bottom of page