SACRAMENTS
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
SAKRAMENT: 'n Bybelse Agtergrond
Die woord sakrament is afgelei van die Latynse sacramentum, ’n woord wat oorspronklik gebruik is om na die eed van getrouheid te verwys wat die soldate in die Romeinse leër aan die keiser afgelê het. Die Kerkvader, Tertullianus (c.160-c.225), het hierdie begrip gebruik om na die Christelike geheimenisse te verwys waardeur die mens in kontak met God gebring is. Op hierdie manier het die woord sakrament dus ’n teologiese betekenis verkry wat dieselfde was as die Griekse woord mysterion wat destyds deur Christene gebruik is en vandag nog in die kerke van die Oosters-Ortodokse Christendom gebruik word vir, wat ons in die Weste die sakramente noem.
Op talle plekke in die Heilige Skrif word daar na God se handeling, teenwoordigheid of werking in die mens se heilsgeskiedenis verwys as ’n geheimenis/misterie. Hierdie ‘geheimenis’ is slegs bekend aan God en diegene aan wie Hy dit wil openbaar (Efesiërs 1:9; 3:3, 3:9). Alleenlik deur geloof in die Goddelike Openbaring kan ’n mens die geestelike waarheid agter God se handeling en sekere gebeure wat deur God gewil is bespeur. Die Menswording/Inkarnasie (Vleeswording) van Jesus Christus is so ’n geheimenis. Deur ons geloof glo ons dat die mens Jesus Christus werklik God is. Jesus is ’n geheimenis waarin nie net sy eie Goddelikheid nie, maar ook sy Vader, verberg is. Soos die Here aan Filippus gesê het: ‘Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.’ (Joh. 14:9). Gevolglik kan ’n mens sê dat Christus ’n sakrament van sy Vader is. Die Kerk is ook ’n geheimenis, aangesien die Kerk die Mistieke Liggaam van Christus is. Die Tweede Vatikaanse Konsilie verwys dan ook na die Kerk as die sakrament van Christus. Verder praat ons van die Sewe Sakramente van die Kerk wat spesifieke geheimenisse is waardeur die werking van Christus en sy genade in ons siele en lewens ontvou word.
In elkeen van die sakramente is daar ’n sigbare, uiterlike teken van die geheimenis wat plaasvind, ’n teken wat uit sigbare/tasbare dinge of ’n sigbare handeling en/of woorde bestaan (Efesiërs 5:26). Hierdie uiterlike tekens staan in verhouding tot die geestelike genade of realiteit wat deur die handeling van die Heilige Gees in die persoon wat dit ontvang se lewe plaasvind. Tydens die Doop word ’n persoon byvoorbeeld met water gedoop – water is iets wat skoonmaak – die Doop reinig ’n persoon geestelik/innerlik en hernu so God se gawe van Homself (Joh. 3:5; Hand. 2:38) in daardie persoon se lewe. Die Doop simboliseer ook ons eie dood en opstanding saam met Christus s’n (Rom. 6:3-4), veral wanneer dié Doop deur onderdompeling plaasvind. Terwyl hierdie handeling van die Heilige Gees plaasvind word die woord gespreek soos Christus ons opdrag gegee het (Matt. 28:19) en hierdeur word die teken/sakrament voltooi. Tradisioneel word daar in ons Katolieke leerstellinge verwys na die twee elemente van ’n sakrament as die materie (water) en vorm (‘Ek doop jou in die Naam van die Vader, en van die Seun, en van die Heilige Gees’).
Ten slotte moet ’n mens dit in gedagte hou dat die Nuwe Testament nie geskryf is om ’n handleiding vir die sakramente en liturgie te wees nie. Die Heilige Skrif lewer getuienis van hoe die vroeë Christene dié sakramente verstaan en beleef het. Die Doop is die sakrament waaroor daar die meeste in die Nuwe Testament gepraat word omdat dit ’n noodsaaklike onderdeel van evangelisasie vorm. Nadat mense gedoop is, het die Kerk se herders (die biskoppe, priesters en diakens), wat hul onderrig van die apostels ontvang het, die ander sakramente toegedien soos dit aan hulle oorgelewer was (2 Tess. 2:15). Dit is wat met die Heilige Tradisie van die Kerk bedoel word: Die oorlewering van geslag tot geslag van die apostoliese lering deur die prediking, onderrig en rituele gebruike van diegene wat deur die apostels aangestel is om die Kerk ná hul afsterwe te lei.
​
Die Sewe Sakramente van die Kerk is:
Doop
Volgens die Heilige Skrif was die doop van Johannes die Doper ’n teken van berou, maar nie ’n sakrament nie. Johannes die Doper se doop was nie ’n middel waardeur genade aan die ontvanger daarvan deurgegee is nie. In die Handelinge van die Apostels is dit duidelik dat diegene wat die Christelike doop ontvang het van hul sondes vergewe is en as lidmate van Christus, en dus van sy Kerk, ingelyf is. Hierdie sakrament vorm die fondament waarop al die ander sakramente gebou word (die enigste sakrament wat Filippus aan die Ethiopiese eunug toegedien het). Matteus 3:16; Matteus 28:19; Markus 1:8; Markus 16:16; Johannes 3:5; Handelinge 1:4-5; Handelinge 2:38; Handelinge 8:16; Handelinge 8:36-38; Handelinge 11:16; Handelinge 16:15; Handelinge 16:33; Handelinge 18:8; Handelinge 19:3-6; Handelinge 22:16 Romeine 6:3-4; 1 Korintiërs 12:13; Efesiërs 5:25-26; Kolossense 2:12; 1 Petrus 3:20-21.
Vormsel
Hierdie sakrament voltooi die genadegawe wat tydens die Doop ontvang is deur ’n nuwe uitstorting van die Heilige Gees wat die ontvanger daarvan toerus vir die Christelike missie. Op Pinkster is die apostels toegerus vir hul lewenstake as volwaardige Christene – net so word volwasse Christene deur hierdie sakrament toegerus vir hul lewenstake. In die vroeë Kerk is hierdie sakrament dikwels gekenmerk deur charismatiese tekens alhoewel dié tekens nooit as ’n voorvereiste vir die ontvangs van hierdie sakrament gesien is nie. Hierdie sakrament is nog altyd toegedien deur handoplegging. In Handelinge 19:3-6 is dit veral duidelik dat die vroeë Christene die doop van Johannes die Doper, die Christelike doop en die ontvangs van die Heilige Gees (vormsel) as aparte en onderskeibare realiteite beskou het. Ook in Hebreërs 6:2 word daar na die doop en vormsel as aparte realiteite verwys. Jesaja 44:3; Esegiël 39:29; Joël 2:28; Johannes 14:16; Handelinge 2:4; Handelinge 8:14-17; Handelinge 19:3-6; Hebreërs 6:2.
Eucharistie
Die Eucharistie is sigbare brood en wyn, maar in werklikheid is dit die Liggaam en Bloed van Christus. Geen blote simbole kan die ewige lewe tot gevolg hê nie. Geen onwaardige ontvangs van ’n blote simbool kan die ewige verdoemenis verdien nie. In die vroeë Kerk is daar na die Heilige Mis verwys as die Broodbreking. Toe dit rugbaar begin word wat die vroeë Christene eintlik besig was om te doen is hulle deur die destydse Romeine van kannibalisme en die opoffering van baba’s beskuldig, omdat daar geglo is dat hulle menslike vlees tydens hulle liturgieë geëet het. Christene het self nog altyd geglo dat die gekonsekreerde brood en wyn werklik die Liggaam en Bloed van Christus is. Matteus 26:26-29; Lukas 24:35; Johannes 6; Handelinge 2:42; 1 Korintiërs 11:24-27.
Bieg/berou
Christus het aan sy apostels die gesag, die sleutels, gegee om sondes te vergewe. Wat hulle ook al op aarde bind, m.a.w. wat hulle nie vergewe nie, sal ook in die hemele gebonde wees, m.a.w. die skuld sal behou word. Hierdie uitsonderlike mag is nie iets wat arbitrêr gebruik kan word nie – dit verg opregte berou aan die kant van die boeteling en daarom word dié sakrament ook dikwels die sakrament van berou en boetedoening genoem. Dié sakrament bewerkstellig ook versoening tussen skepsel en Skepper en staan dus ook bekend as die sakrament van versoening. Dié sakrament sou uiteraard van geen nut wees as dit net tot Jesus se eie dissipels beperk was nie – Christus het belowe dat Hy tot aan die einde van tyd met sy Kerk sal wees en deur die sakramente kan elke nuwe generasie deel in sy aanwesigheid en genadegawes. Deur die wydingsakrament word hierdie mag om sondes in die Naam van Christus te vergewe aan biskoppe en priesters oorgelewer. Matteus 16:19; Johannes 20:21-23; Openbaring 1:18.
Siekesalwing
Die hoofdoel van dié sakrament is om die ontvanger daarvan geestelik vir die dood voor te berei. Alhoewel daar ook om liggaamlike genesing gebid word is dit altyd ondergeskik aan God se Wil. Ons verlossing en opstanding waarvan Jakobus praat is in die eerste plek geestelik van aard. Jakobus 5:14-15.
Heilige Wydinge
Die drievoudige indeling van die Kerk se gewyde bedienaars (biskoppe, priesters en diakens) word vooruit aangedui in die Ou Verbond (hoëpriesters, priesters en leviete) en kom baie duidelik na vore in die Heilige Skrif. Hou dit in gedagte dat Afrikaanse Bybelvertalings (wat helaas al te dikwels ’n spesifiek Protestantse interpretasie wil oordra) die Griekse woorde episkopos (biskop), presbyteros (priester) en diakonos (diaken) dikwels misleidend vertaal (episkopos gewoonlik as opsigter en presbyteros as ouderling om alle Katolieke assosiasies te verdoesel).
Huwelik
St. Paulus noem die huwelik ’n geheimenis/misterie (mysterion). Die Latynse woord wat gebruik is om mysterion te vertaal is sacramentum. Die sakramente dui op geheimenisse (soos die Oostere Christene hulle vandag nog noem) waarvan een gedeelte sigbaar is en die ander gedeelte slegs deur geloof sigbaar gemaak kan word. Deur geloof is die sakrament van die huwelik ’n teken van Christus en sy Kerk, sowel as van ’n spesiale lewensroeping. Matteus 19:10-11; Efesiërs 5:31-32.