CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
41. IS DIT BYBELS OM IN DIE VAEVUUR EN IN GEBEDE VIR DIE OORLEDENES TE GLO?
Ons weet dat sommige mense, wat boosaardige lewens gelei het, op hul sterfbed berou toon en ons glo ook dat God nie ’n berouvolle sondaar sal wegwys nie. Iemand wat so in sy/haar sterwensuur berou het oor ’n lewe van sonde moet nog steeds boete doen vir sy/haar lewenslange oortredinge. Ons weet dat niks wat onrein is die hemel kan binnegaan nie: ‘En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie... ‘ (Open. 21:27). Deur die vaevuur toon God sy genadige liefde vir ons. Ons Afrikaanse woord vaevuur kom van die Nederlandse vagevuur (vagen beteken skoonmaak of reinig of skoonvee) en is ’n vertaling van die Latynse purgatorio (wat plek van reiniging beteken). Ons het hier dus te doen met ’n toestand waarin ons siele skoongebrand sal word (m.a.w. ons sal dit miskien as pynlik of ongerieflik ervaar) sodat ons uiteindelik die hemel kan ingaan. Die vaevuur is dus nie die hel nie; dis ’n tydelike toestand van reiniging en suiwering en ’n mens wat deur die vaevuur gaan se uiteindelike bestemming is die hemel. In dié realiteit van die vaevuur vind ons as mense groot vertroosting (dat daar letterlik tot en met ons laaste asemteug nog hoop vir ons is – die moontlikheid om berou te toon en God se vergifnis te ervaar). Net soos ’n pasiënt wat weet dat hy/sy weer beter sal word die dikwels pynlike behandeling van die dokter (die chirurg se snymes) verduur net so is ons bereid om die vaevuur te verduur omdat ons weet dit ons toegang tot die hemel is. Die duidelikste Bybelse verwysing vir die bestaan van so ’n toestand vind ’n mens in die volgende tekste: ‘Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud , silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy sy loon ontvang; en as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.’ ( 1 Kor. 3:11-15) en ‘Maar onder die klere van elke gesneuwelde soldaat het hulle amulette ontdek van die afgode van Jámnia, terwyl dit deur die wet aan die Jode verbied is. Vir almal het dit toe duidelik geword om watter rede hulle omgekom het. Daarna het hulle gaan bid, en hulle het gesmeek dat die sonde wat gedoen is, volledig vergewe sou word. En die edele Judas het die volk vermaan om hulle van sonde te vrywaar, want hulle het nou met hulle eie oë kon aanskou watter dinge die gesneuweldes oorgekom het vanweë hulle sonde. Ook het hy onder die manne deur ’n geldinsameling tweeduisend dragmes bymekaar gemaak, en hy het dit na Jerusalem gestuur om ’n soenoffer (versoeningsoffer) vir dié sonde op te dra. Dit was ’n besonder mooi en edele daad, omdat hy aan die wederopstanding gedink het. Want as hy nie verwag het dat die gestorwenenes weer sal verrys nie, sou dit nutteloos en onverstandig gewees het om vir die oorledenes te bid. Verder het hy ook oorweeg dat vir die wat vroom ontslaap het, ’n heerlike beloning wag. Inderdaad ’n heilige en vrome gedagte. En om hierdie rede het hy vir die oorledenes ’n soenoffer laat opdra, sodat hulle van hul sonde verlos sou word.’ ( 2 Makkabeërs 12:40-45). Hierdie soenoffer sou geen nut gehad het as hulle geglo het dat dié oorledenes in die hel was nie – dit is duidelik dat die antieke Jode geglo het in ’n plek van reiniging (’n tussen-in toestand tussen hul aardse lewe en hemelse tuiste waar hulle gesuiwer word, m.a.w. die vaevuur).en dat hulle ook vas geglo dat die gebede en soenoffers van diegene op aarde ’n impak maak op diegene in die vaevuur. Daarom bid ons as Katolieke nog steeds vir ons oorledenes en dra ons Heilige Misse vir hulle op. Die vaevuur kan beskou word as die laaste loutering wat ons vir ons sondes hoef te verduur met die wete dat ons tog vir die hemel bestem is.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘ Hulle wat in die genade en die vriendskap van God sterf, maar nog nie volkome van hul sondes gereinig is nie, ondergaan ná hul dood ’n loutering (alhoewel hulle van hul ewige verlossing verseker is) ten einde dié noodsaaklike heiligheid te verwerf wat hulle in staat sal stel om die vreugde van die hemel binne te kan gaan.’ (Par. 1030)
‘Bewys vir hierdie leerstelling vind ’n mens ook in die gebruik om vir die oorledenes te bid: Iets waaroor die Heilige Skrif baie duidelik is: ‘En om hierdie rede het hy (Judas die Makkabeër) vir die oorledenes ’n soenoffer laat opdra, sodat hulle van hul sonde verlos sou word. ( 2 Makk.12:45). Vanaf die begin van die Kerk se bestaan het Christene hul oorledenes eerbiedig deur vir hulle te bid en vir hulle die offer van die eucharistie op te dra sodat hulle (die oorledenes), ná hul loutering (reiniging) in alle geluksaligheid die aangesig van God kan aanskou. Om dieselfde rede beveel die Kerk ook aalmoese, aflate en werke van boetvaardigheid aan ten gunste van die oorledenes: Laat ons hulle hulp aanbied en hul nagedagtenis in herinnering roep. As die kinders van Job deur hul vader se offer gereinig kon word (Job 1:5) hoe kan ons dan daaraan twyfel dat ons offers vir die dooies hulle nie enige troos sal kan verskaf nie? Laat ons nooit moeg word om hulp te gee aan diegene wat ons alreeds vooruitgegaan het nie en laat ons altyd vir hulle bid.’ (Uit die preke van St. Johannes Chrysostomus c. 347-407).’ (Par. 1032)
Geloof in die vaevuur en die gebruik om vir ons afgestorwenes te bid en die Heilige Eucharistie vir hulle te laat opoffer is van die oudste gebruike in die Christelike Kerk.
Lees gerus: Tobias 12:12; Ekklesiastikus (Jesus Sirag) 12:14; Jesaja 4:4; Maleagi 3:2-4; Matteus 5:22-26; Matteus 12:32; Lukas 16:19-31 met Efesiërs 4:8-10 en 1 Petrus 3:19-20; 1 Korintiërs 15:29; 2 Korintiërs 5:10; 2 Korintiërs 7:1; 2 Timoteus 1:16-18; Hebreërs 12:14, 29.
​
​
​
​