CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
42. WAT GLO ONS AS KATOLIEKE OMTRENT DIE HEL?
As Katolieke glo ons dat God niemand hel toe stuur sonder dié betrokke persoon se vrywillige instemming nie: ‘ Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.’ ( 2 Pet. 3:9). Sommige mense verkies om apart van God en sy gebooie te lewe – dit is hulle eie keuse. Mense wat in hul sonde volhard (hulself dus doelbewustelik van God afskei) en nie berou toon nie is bestem vir die hellevuur, want dit is eenvoduig wat ’n ewigheid sonder God is. Die Here Jesus het meer dikwels na die hel verwys as na die hemel. Die Griekse woord aionios ( wat ewig of ewigdurend beteken) kom op baie plekke in die Bybel voor en word gebruik om na beide die hemel of die hel te verwys. Hierdie selfde Griekse woord word ook gebruik om na die ewige straf of verdoemenis te verwys (Matt. 18:18; 25:41, 46; Mark. 3:29, 2 Tess. 1:9; Hebr. 6:2; Judas 7:12). Op soortgelyke wyse word die verwante Griekse woord aion regdeur die Boek Openbaring gebruik om na ons ewige lewe in die hemel te verwys (Open. 1:18; 7:12), maar ook om na die ewige straf te verwys (Open.14:11; 20:10). Daar is sommige mense wat beweer dat Openbaring 20:10 slegs op die duiwel van toepassing is: ‘En die duiwel wat hulle verlei het is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.’ Dat dié teks heel duidelik nie net op die duiwel van toepassing is nie maar op almal wat teen God gekies het blyk uit Openbaring 20:15: ‘En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.’
God gee aan alle mense voldoende kennis om te kan weet dat Hy bestaan en genoeg genade om (as ons wil) gered te kan word. Waar mense dus nog steeds vir God en sy belofte van verlossing verwerp verdien hulle om gestraf te word. Andersins sou bose mense in die hemel opeindig en hul verskriklike misdade nooit gesraf word nie. Dit sou absoluut indruis teen God se eie heiligheid en ons Godgegewe sin vir geregtigheid. God sal ons nooit dwing om Hom te dien en vir Hom lief te wees nie – op diegene wat uit vrye wil God se liefde verwerp wag daar dus ’n toekoms sonder God: So ’n toekoms is die hel.
Lees gerus: Matteus 5:22, 29; Matteus 7:13-14; Matteus 10:28; Matteus 13:41-42, 50; Matteus 22:313; Matteus 25:13, 26, 30; Markus 9:43-48; Hebreërs 9:27; 1 Johannes 3:14-15.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘ Die doderyk waarin Christus ná sy afsterwe neergedaal het, noem die Bybel die hel, die Sjeool of Hades, omdat diegene wat hulself daarin bevind, nie vir God kan sien nie. Dit is die geval vir alle dooies, goeies of slegtes, soos hulle op die Verlosser wag – dit impliseer egter geensins dat die lot van die goeies en die slegtes gelyk is nie. Soos Jesus dit duidelik maak uit sy gelykenis van Lasarus en die ryk man, is eersgenoemde (die goeie een) opgeneem na die skoot van Abraham. Dit was juis hierdie siele wat in die skoot van Abraham op hul bevryder gewag het dat Jesus kom bevry het toe Hy neergedaal het na die hel. Jesus het nie neergedaal na die hel om die verdoemdes te bevry nie. maar om die regverdiges, wat Sy Koms vooruitgegaan het, te bevry.’ (Par. 633).
‘Net soos die liefde ’n radikale keuse van ons kant af vir God is, so is die doodsonde ’n radikale keuse teen God – beide hierdie moontlike keuses spruit voort uit ons menslike vryheid. Die doodsonde lei tot die verlies van liefde en heiligmakende genade in ons lewe – dit wil sê ons verloor die staat van genade waarin ons verkeer het. Indien so ’n persoon wat in doodsonde leef nie vrygekoop word deur berou en God se vergifnis nie, veroorsaak die doodsonde dat so ’n persoon uitgesluit word uit die Koninkryk van Christus, en so ’n onkeerbare en ewige keuse maak om die ewigheid in die hel deur te bring.’ (Par. 1861).
​
​
​
​