top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous  

​

43. WAT GLO ONS AS KATOLIEKE OMTRENT DIE HEMEL?

 

As Katolieke glo ons dat die opgestane regverdige heiliges, almal wat gered is, met verheerlikte liggame die ewigheid in die hemel sal deurbring (Open. 4:9-10; 5:13-14; 10:6; 11:15; 15:7; 22:5).

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘Hulle wat in die genade en vriendskap van God sterf en volmaak gelouter/gereinig is sal vir ewig saam met Christus lewe. Hulle sal vir ewig gelyk wees aan God omdat hulle Hom sal sien ‘soos Hy is’ (1 Joh. 3:2), van aangesig tot aangesig.’ (Par. 1023)

 

‘Hierdie volmaakte lewe saam met die Allerheiligste Drie-eenheid, hierdie gemeenskap van lewe en liefde met die Drie-eenheid, die Maagd Maria, die engele en alle heiliges word ‘hemel’ genoem. Die hemel is die uiteindelike doel en die verwesenliking van die diepste verlangens van die mens, die hoogste en definitiewe staat van geluk.’ (Par. 1024)

 

‘Ons glo dat die menigte siele wat rondom Jesus en Maria in die paradys versamel word, die hemelse ryk vorm, waar hulle in die ewige geluk God sal sien, sos Hy is, en waar hulle ook in verskillende mate saam met die engele deel het aan die Goddelike bestuur, wat Christus in heerlikheid uitoefen, deur vir ons voorspraak te doen en ons in ons swakheid met hulle broederlike sorg te hulp te kom.’ (Par. 1053)

 

Hierdie volmaakte toestand - hierdie salige gemeenskap met God en met almal wat in Christus is – is op hierdie stadium van ons lewens iets wat ons begrip te bowe gaan en nie in menslike taal en terme beskryf kan word nie. Die Heilige Skrif gebruik beeldspraak om daarvan te praat: lewe, lig, vrede, die huweliksfees, wyn van die koninkryk, die Vader se huis, die hemelse Jerusalem, die paradys.

 

Lees gerus: Jesaja 65:17; Jesaja 66:22; Matteus 5:8; Matteus 22: 1 en vervolgens; Matteus 25:21, 23; Handelinge 3:21; Romeine 2:7; Romeine 6:22 en vervolgens; Romeine 8:18-23; 1 Korintiërs 2:9; 1 Korintiërs 9:25; 1 Korintiërs 13:12; 2 Korintiërs 5:7; 2 Korintiërs 12:4; Efesiërs 1:10; Kolossense 1:20; 1 Petrus 5:4; 2 Petrus 3:10-13; 1 Johannes 3:2; Openbaring 21:1-9, 27; Openbaring 22:4-5.

​

​

  << Previous    

​

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page