CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
12. HOEKOM GLO ONS AS KATOLIEKE DAT JESUS LIGGAAMLIK AANWESIG IS IN DIE GEKONSEKREERDE HOSTIE VAN DIE EUCHARISTIE?
In Johannes 6:51 verklaar Jesus dit herhaaldelik dat wie ook al sy vlees eet en sy bloed drink die ewige lewe sal hê. Dit is heel duidelik dat Hy dit letterlik bedoel het, want ’n hele aantal van sy volgelinge het Hom as gevolg van hierdie uitspraak verlaat (Joh. 6:52, 66) - Hy het hulle geensins probeer keer en vir hulle gesê dat hulle Hom misverstaan het of dat Hy dit bloot simbolies bedoel het nie. St. Paulus bevestig hierdie uitspraak van die Here in 1 Korintiërs 11:27 waar hy die volgende waarskuwing rig teenoor diegene wat die Heilige Kommunie op onwaardige wyse ontvang: ‘Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die Liggaam en Bloed van die Here.’
In die Skrifgedeeltes wat oor die Laaste Avondmaal handel is daar absoluut geen aanduiding nie dat Jesus besig was met simboliese beeldspraak toe Hy van die brood wat Hy in sy hande gehou het gesê het: ‘Dit is My liggaam’ en van die wyn ‘Dit is My bloed’. (Matt. 26:26, 28; vgl. Mark 14:22, 24 en Luk. 22:19-20). Lukas se weergawe van die dissipels se ontmoeting met die Here op die pad na Emmaus beklemtoon ook dié waarheid: Toe die Here die brood geneem en dit geseën en aan hulle gegee het, kon hulle Hom herken en toe verdwyn Hy fisies uit hulle midde (Luk.24:30-31). Later toe hulle verslag oor dié gebeure aan die ander dissipels gelewer het, kon hulle vertel: ‘...hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood.’ (Luk. 24:35).
Die Katolieke Kerk vereis dat haar lidmate dié waarheid glo voordat hulle toegelaat word om Heilige Kommunie in die Kerk te ontvang. Die Kerk sluit nie mense uit omdat sy haarself afsydig of eksklusief wil hou nie, maar omdat die Eucharistie ’n ‘teken van eenheid’ en ’n ‘liefdesband’ is (in St. Augustinus se woorde) wat ’n eenheid van geloof veronderstel (Efes. 4:3-6). Dit sou skynheilig en onvanpas wees om Christene, wat nie hierdie geloof met ons deel nie (m.a.w. waar ons nie één in geloof is nie), in die Eucharistie te laat deel.
Lees gerus: Matteus 26:26-28, Markus 14:22-24; Lukas 22:19-20; Johannes 6:47-66; 1 Korintiërs 10:16; 1 Korintiërs 11:23-30.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘Om die bediening of mededeling van sy verhewe heilswerk te voltrek is Christus altyd by sy Kerk, veral in die liturgiese handelinge. Persoonlik is Hy aanwesig in die Eucharistiese Offer, sowel as in die persoon van die bedienaar – Hy wat Homself destyds aan die kruis opgeoffer het, offer Homself nou deur die bediening van sy priesters – maar ook is Christus in die besonder aanwesig onder die Eucharistiese gedaantes van brood en wyn. Deur sy krag is Christus altyd persoonlik aanwesig in sy sakramente, sodat wanneer iemand doop, dit Christus Self is wat doop. Persoonlik is Christus ook aanwesig in sy Woord, want dit is Hyself wat spreek wanneer die Heilige Skrif in die Kerk voorgelees word. Ten slotte is Hy persoonlik aanwesig wanneer die Kerk bid en psalms sing, want Hy het beloof: ‘Waar daar twee of drie verenig is in my Naam, daar is Ek in hul midde’ (Matt.18:22). (Par. 1088).
​
​
​