top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

11. WAT GLO ONS AS KATOLIEKE OMTRENT DIE VERHOUDING TUSSEN GELOOF EN GOEIE WERKE?

 

 

Ons Katolieke glo dat om in die oë van God geregverdig te wees beteken dat jy van al jou sondes skoongewas is en met ’n bo-natuurlike genadegawe geseën word – so word ’n mens regverdig gemaak. Geloof in Jesus Christus is nie voldoende tensy dit tot uiting kom in liefdeswerke (goeie werke) nie. Goeie werke is dus nodig vir verlossing omdat ’n mens daardeur heilig gemaak word en heiligmaking is ’n voorvereiste vir regverdiging. Wanneer ons as Katolieke van God se genadegawes praat bedoel ons die hulp/bystand wat God ons gee om ons heilig te maak. Hierdie genadegawes van God kan ons nie verdien of deur goeie werke afkoop nie – dit is gawes van God wat Hy vrylik aan ons gee deur Jesus Christus, ons Verlosser, se versoeningsdood aan die kruis. Ons ontvang hierdie gawes gratis – dit is interessant om die oorsprong van ons Afrikaanse woord gratis na te gaan: Dit kom van die Latynse woord gratia wat in Engels as grace vertaal word en in Afrikaans met die woord genade vertaal word – hierdie begrip van genade word ongelukkig dikwels met barmhartigheid of ontferming verwar. Ons mense verdien nooit God se genadegawes op ons eie meriete nie – dit is Christus se meriete wat God se genadegawes aan ons moontlik maak. Die Bybel en die Katolieke Kerk leer ons dat God dié goeie werke beloon wat vanuit sy (d.w.s. God se) genadegawes voortkom – geen mens kan homself red deur goeie werke wat uit homself voortkom nie. Niemand kan deur die Geseënde Maagd Maria of die pous of enigiemand anders as ons Here en Heiland Jesus verlos word nie. Toe die ryk jongman vir Jesus kom vra het hoe hy gered kan word (Luk. 18:18-25) het onse Here hom opdrag gegee om ’n ‘goeie werk’ te gaan doen, naamlik om al sy besittings te gaan verkoop en die geld vir die armes te gee. Jesus maak dit duidelik dat ons goeie werke (Matt. 16:27; 25:31-46) tog ’n deurslaggewende rol in ons verlossing speel (maar weereens kan ons nie ons eie verlossing afkoop nie).

 

Lees gerus: Matteus 5:20; Matteus 7:16-27; Lukas14:13-14; Johannes 3:36; Johannes 6:27-29; Handelinge 3:19; Handelinge 10:31; Romeine 2:5-13; 1 Korintiërs 3:8-9; 1 Korintiërs 6:11; 1 Korintiërs 5:10; Efesiërs 2:8-10; Filippense 2:12-13; Filippense 3:11-14; Hebreërs 5:9; Jakobus 1:22; Jakobus 2:14-26; 1 Petrus 1:17; 1 Petrus 2:7; 1 Johannes 1:7-9; Openbaring 22:12.

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘Die Kerk, verenig met Christus, word deur Hom geheilig; deur Hom en in Hom word die Kerk egter ook ’n instrument van heiliging. Die doel van al die werke van die Kerk is die heiliging van die mense in Christus en die verheerliking van God. In die Kerk vind ons dus die volheid van al die heilsmiddele aanwesig – in die Kerk verwerf ons heiligheid deur God se genade.’ (Par. 824).

​

​

  << Previous    |     Next >> 

 

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page