CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
10. VERKONDIG ONS AS KATOLIEKE DIE EVANGELIE?
​
In die Heilige Skrif vind ons ’n rekord van die Apostels wat die evangelie (letterlik beteken dit die goeie tyding/nuus/blye boodskap) direk ná daardie eerste merkwaardige Pinkstergebeure begin verkondig het. St. Petrus het die bo-vertrek verlaat en die evangelie gaan verkondig (Hand. 2:22-40) en op daardie dag het drieduisend mense Christene geword (Hand. 2:41). In Petrus se eerste preek kom die begrip ‘geloof alleen’ glad nie ter sprake nie (volgens baie Protestante vorm geloof alleen [sola fidei] die basis van die verkondiging van die evangelie). Aan sy toehoorders het St. Petrus gesê: ‘Bekeer julle ... en laat julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes ...’ (Hand. 2:38). Op dieselfde wyse verklaar St. Paulus in Handelinge 13:16-41 dat die evangelie/goeie tyding die opstanding van Jesus is (Hand. 13:32-33), en in 1 Korintiërs 15:1-8 noem hy die evangelie die dood, begrafnis en opstanding van Christus. Toe Paulus self bekeer is, is hy onmiddelik gedoop, sodat sy sondes afgewas kon word (Hand. 22:12-16). Die Bybel maak dit dus baie duidelik dat die goeie tyding/die evangelie die volgende is: Die verkondiging van die dood, begrafnis en opstanding van die Here Jesus. Dit is presies wat die Katolieke Kerk nog altyd verkondig het.
As Katolieke glo ons dat elke Heilige Mis by uitstek die verkondiging van die evangelie is: Nie net word die Woord gepreek nie, maar in die Eucharistie word die Woord – Hy wat die Brood van die Lewe is – vir ons gebreek. Onthou die hoofrede waarom die vroeë Christene bymekaar gekom het was om die Brood te breek – die broodbreking was dan ook een van die eerste name vir die Heilige Mis. Reg aan die begin van die geskiedenis van die Christelike Kerk lees ons hoe daardie vroeë Christene saam aanbid het: ‘Hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede’ (vgl. Hand. 2:43-47; 20:7; 1 Kor. 10:16-17). Die Heilige Mis het deur die eeue heen nog steeds die beste manier gebly om die evangelie te verkondig. Die vroegste Christelike erediens was heel duidelik die Heilige Mis en het beslis niks in gemeen gehad met die preekdienste van moderne Protestantisme nie.
Lees gerus: Matteus 9:35; Markus 14:9; Markus 16:15; Lukas 9:6; Handelinge 8:25; Handelinge 14:7,21; Handelinge 15:7; Handelinge 16:10; Handelinge 20:24; Romeine 15:16, 19-20,29; 1 Korintiërs 9:11-18; Galasiërs 1:6-11; 1 Tessalonisense 2:2-9; 2 Petrus 4:6-17.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg:’Ons verlossing kom van God alleen; maar omdat ons die lewe van die geloof deur die Kerk ontvang, is die Kerk ons moeder. Ons glo in die Kerk as die moeder van ons wedergeboorte. Aangesien sy ons moeder is, is sy ook ons opvoedster in die geloof.’ (Par. 169).
​
​
​