CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
13. GLO ONS AS KATOLIEKE DAT JESUS WEER BY ELKE HEILIGE MIS OPNUUT OPGEOFFER WORD?
As Katolieke glo ons dat die Heilige Mis ’n uitbeelding en voorstelling van Jesus se historiese, eenmalige offerdood aan die kruis is. Jesus se dood is nie net iets wat tweeduisend jaar gelede in ons menslike geskiedenis plaasgevind het nie, maar is iets wat deur en buite tyd strek. God staan buite en bo-oor tyd - Jesus se dood het dus tydlose ewige gevolge (Op. 5:6; 13:8). In elke Heilige Mis word die Here se offerande vir ons werklikheid gemaak – dit is die een en dieselfde offerande van Golgota wat tydens elke Heilige Mis binne-in ons tyd en ruimte en dus binne-in ons bereik geplaas word. Christus word dus nie opnuut tydens elke Heilige Mis geoffer nie – sy offerande duur vir ewig en ons wat binne-in tyd leef kry deur die Heilige Mis direkte toegang tot sy kruisoffer.
Ons weet hierdie is waar omdat die Bybel op etlike plekke daarna verwys. Die priesterlike offerande wat so ’n sentrale rol in die geloof van die Ou Testament speel kom ook voor in die boek Openbaring, waar daar herhaaldelik na die ‘altaar’ verwys word (Op.6:9; 8:3-5; 9:13; 11:1; 14:18; 16:7). In Openbaring 5:1-10 vind ons ’n voorstelling van hierdie glorieryke ervaring in die hemel. Die ‘... Lam asof Hy geslag is...’ staan ‘...in middel van die troon’ (5:6), wat voor die altaar staan met ’n goue wierookvat (8:3): Hierdie beelde dui op die tempel offers in die Joodse tempel maar gee ons ook ’n aanduiding van hoe die liturgie in die vroeë Kerk gevier is. Die voorstelling van Jesus as die ‘Lam’ wat aan die Vader geoffer word is iets wat aanhoudend voortduur (vanuit God se perspektief is dit ’n tydlose offer). Met ander woorde lank nadat Jesus Christus in ons geskiedenis aan die kruis gesterf het duur die impak daarvan nog voort (dit oorskry inderdaad alle tyd). In Hebreërs 7:24 lees ons dat Jesus oor ’n ewige priesterskap beskik.
Tydens elke Heilige Mis word Jesus se priesterlike handeling tydens die Laaste Avondmaal voorgestel en uitgebeeld. Terselfdertyd onthou ons die eenmalige offerande van ons Heiland aan die kruis (Hebr. 7:27) – ’n offerande wat vir eens en altyd plaasgevind het en nooit weer herhaal hoef te word nie.
Lees gerus: Genesis 14:18; Levitikus 23:23; Psalm 110:4; Jesaja 66:18,21; Maleagi 1:11; Hebreërs 3:1; Hebreërs 4:14-16; Hebreërs 5:1-10; Hebreërs 6:20; Hebreërs 7:1-28; Hebreërs 8:1-6; Hebreërs 9:11-15,24-28; Hebreërs 10:19-22; Hebreërs 13:10.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg:’Die Eucharistie is dus één offer, omdat dit die kruisoffer teenwoordig maak, omdat dit die gedagtenis van daardie een kruisoffer is en omdat dit die vrugte van daardie kruisoffer toepas: Christus, ons God en Heer, het Homself vir eens en altyd aan God, die Vader, opgedra deur vir ons te sterf op die altaar van die kruis, om vir ons mense ’n ewige verlossing te bewerkstellig. Sy offer het egter nie die einde van sy priesterskap beteken nie (Hebr. 7:24, 27) en dus het Hy die Laaste Avondmaal ‘in die nag waarin Hy oorgelewer is’ ( 1 Kor. 11:23) aan die Kerk, sy geliefde bruid, as ’n sigbare (soos die menslike natuur dit vereis) offer nagelaat. Hierdeur word die bloedige offer, wat Hy vir eens en altyd op die kruis gebring het, teenwoordig gemaak, en so word die gedagtenis daaraan tot aan die einde van die tyd bewaar en word die heilsame werking daarvan toegepas op die vergifnis van dié sondes wat ons mense nog daagliks begaan.’ (Par. 1366).
​
​
​