top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

14. IS DIE KONSEP VAN DIE APOSTOLIESE OPVOLGING BYBELS?

​

Ons Katolieke glo dat die biskoppe – en dit glo ons was Jesus se bedoeling – die direkte opvolgers van die oorspronklike Apostels is. Ons glo dus dat die Katolieke Kerk in ’n ononderbroke lyn hierdie Apostoliese Opvolging vanaf ons huidige biskoppe tot by die Apostels van Jesus Christus gehandhaaf het. St. Paulus leer ons dat die Kerk gebou is ‘op die fondament van die apostels ‘ (Efes. 2:20). Christus het Self sy apostels uitgekies (Joh. 6:70; Hand. 1:2, 13; vgl. Matt. 16:18). In Markus 6:30 word die oorspronklike twaalf dissipels van Jesus ook ‘apostels’ genoem en in Matteus 10:1-5 en Openbaring 21:14 word daar na die ‘twaalf apostels’ verwys. Nadat Judas hulle verlaat het, het die oorblywende elf apostels onmiddellik ‘n opvolger, Mattias, gekies (Hand. 1:20-26). In die oorspronklike Griekse teks van Handelinge 1:20 word Judas ’n episkopos genoem (waarvan die woord biskop afgelei word maar wat in Afrikaans dikwels misleidend as opsiener vertaal word). Dit volg dus dat al twaalf van die apostels destyds met die titel episkopos/biskop aangedui was. Met die vervanging van Judas as episkopos het ons us ’n baie vroeë voorbeeld van die Apostoliese Opvolging: Dit is die ononderbroke opvolging van biskoppe soos die biskopsamp van een geslag na die volgende oorhandig is.

 

Hoekom sou die Apostels Judas vervang het as dit nie noodsaaklik was dat sy amp deur iemand beklee moes wees nie? Jesus het sy Apostels as die Herders van sy Kerk op aarde aangestel deur sy opdrag aan hulle om dissipels van alle nasies te gaan maak. Hy het hulle belowe dat Hy hulle sou bystaan en hulle van sy aanwesigheid verseker kon wees ‘tot aan die voleinding van die wêreld’ (Matt. 28:20). Die amp van Apostel (biskop) is dus deur Christus Self ingestel en die ononderbroke aanwesigheid van herder/biskoppe deur al die eeue in die Kerk is hoe Christus sy Kerk bystaan. God bly altyd getrou aan sy beloftes, dus kan ons verseker wees dat Christus se belofte om altyd met sy Apostels te wees, nie met die fisiese dood van die laaste Apostel opgehou het nie – deur die opvolgers van die Apostels laat die Here sy volk nooit as weeskinders agter nie (vgl. Joh. 14:18). Die amp van biskop in die Kerk hou verband met die gesagstruktuur van die Kerk en dien om die integriteit van die Evangelie boodskap te bewaar (dat dit nie afgewater en verander word deur die wisselvallige kulturele idee’s en modegiere van ’n spesifieke tydperk nie). Deur die biskoppe word die eenheid van Christus se Kerk regoor die hele wêreld bewaar en verkry ons die waarborg dat dit wat ons in ons kerke hoor die oorspronklike en outentieke waarheid van die Evangelie is.

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘Sodat die Evangelie altyd ongerep en lewend in die Kerk bewaar sal word, het die Apostels biskoppe as hul opvolgers nagelaat aan wie hulle in hul plek hul leergesag oorgedra het. Op hierdie wyse bly die apostoliese prediking, wat in die geïnspireerde boeke (van die Heilige Skrif) op ’n besondere wyse uitgedruk word in ’n ononderbroke opvolging bewaar tot aan die einde van die tyd.’ (Par. 77).

​

​

  << Previous    |     Next >> 

 

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page