top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

15. HOEKOM BESKIK ONS AS KATOLIEKE OOR ’N GEWYDE KLERUS?

 

Die woord klerus dui diegene aan wat die Wydingsakrament ontvang het (biskoppe, priesters en diakens). Vir die eerste sestienhonderd jaar van die Christendom se bestaan het alle Christene aanvaar en geglo dat Christus ’n spesiale sending aan sy Apostels en hul opvolgers gegee het wat nie op dieselfde wyse deur alle gelowiges gedeel word nie. Om biskop/priester of diaken te wees impliseer dus ’n spesifieke roeping binne die breër roeping van Christenskap. Die Nuwe Testament verwys na drie tipes permanente ampte binne die Kerk: Biskoppe (episkopos – gewoonlik word dié woord in Afrikaanse Bybelvertalings as opsiener/toesighouer vertaal); Priesters (presbyteros – gewoonlik word dié as ouderling m.a.w. oudste in die geloof vertaal) en Diakens (diakonos – die enigste een wat blykbaar volgens die Afrikaanse Protestante Bybelvertalers nie ’n Katolieke betekenis het nie en dus korrek weergegee word). Afrikaanse Katolieke moet bedag wees daarop dat daar ongelukkig in baie gevalle doelbewustelik gepoog is om die oorspronklike Katolieke betekenis van woorde in die Bybel af te water of te verprotestants. Die woord priester/presbyteros verskyn op talle plekke in die Nuwe Testament (o.a. Hand. 15:2-6; 21:18; 1 Pet. 5:1; 1 Tim. 5:17).

 

In Hebreërs lees ons hoe elke Christen ’n ‘priester’ is in terme van die lofoffers wat ons gedurig aan God moet opdra (Hebr. 13:15) en die weldade wat ons moet verrig (Hebr. 13:16). Hierdie universele priesterskap van alle gelowiges word verder beklemtoon in Filippense 2:17; 1 Petrus 2:5,9 en Openbaring 1:6. Ons vind hierdie selfde taalgebruik in Exodus 19:6 waar alle Jode as deel van die ‘koninkryk van priesters’ beskou word. Nogtans was daar benewens dié algemene priesterskap ook ’n gespesialiseerde amptelike priesterskap wat tot die stam van die Leviete beperk was. Ons vind dieselfde idee in die Nuwe Testament waar daar sprake is van die algemene priesterskap van alle gelowiges – die Kerk is die nuwe ‘koninkryk van priesters’, maar ook van ’n gespesialiseerde uitverkiesde groep manne (soos die Twaalf Apostels) met ’n baie spesifieke sending.

 

Lees gerus: Matteus 18:18; Lukas 10:16; Lukas 22:19; Lukas 24:47; Johannes 13:20; Johannes 15:5; Johannes 20:21-23; Handelinge 2:38, 41; Handelinge 5:2-11; Handelinge 14:23; Romeine 10:15; 1 Korintiërs 4:1; 1 Korintiërs 5:3-13; 2 Korintiërs 5:18-20; Efesiërs 4:11; 1 Timoteus 1:18-20; 1 Timoteus 4:14; 1 Timoteus 5:23; Titus 3:10; Jakobus 5:13-15.

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘ Vanaf die begin van sy openbare bediening het Christus die Twaalf Dissipels uitverkies om die saad van die nuwe Israël en die oorsprong van die heilige hiërargie te wees. Hierdie Twaalf manne is nie net saam uitverkies nie, maar ook saam uitgestuur en hul onderlinge broederlike gemeenskap staan in diens van die broederlikheid wat daar onder alle gelowiges behoort te heers. Deur hul onderlinge verbondenheid aan mekaar en die hegte gemeenskap wat hulle vorm weerspieël hulle die gemeenskap van die Goddelike Persone- die Drie-enige God. Daarom oefen ieder biskop sy amp uit binne die kollege van biskoppe, in gemeenskap met die Biskop van Rome, die Opvolger van die Heilige Petrus en Hoof van hierdie kollege; ook die priesters oefen hul amp uit binne die priesterkollege van die bisdom onder leiding van hul biskop.’ (Par. 877).

​

​

  << Previous    |     Next >> 

​

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page