CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
38. HOEKOM VOEL ONS AS KATOLIEKE SO STERK OOR DIE LOT VAN ONGEBORE BABAS?
Die Heilige Skrif leer ons dat ongebore kinders dieselfde status as gebore kinders geniet: ‘Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig.’ (Jer. 1:5). Verder sê die Bybel: ‘...hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.’ (Luk. 1:15). God ‘ken’ elke persoon wat al ooit bestaan het of nog sal bestaan, of daardie persoon nou al in die moederskoot ontvang is of nie. Die Bybel veroordeel moord: Die verkeerdelike, immorele vernietiging van ’n menslike lewe. Die Heilige Skrif beskou heel duidelik die ongebore kind as ’n persoon – dus is dit moord om ’n ongebore lewe te vernietig. In die oë van die Bybel is aborsie dus moord. As Katolieke glo ons dat ’n kind by die oomblik van sy ontvangenis/konsepsie ’n siel van God af ontvang. Alles (die DNS en genetiese kode) wat die kind in staat sal stel om tot ’n volwassene te ontwikkel is dus vanaf die eerste oomblik daar. Hierdie is ’n wetenskaplike feit. Al wat nou nodig is, is tyd en voeding. Die teenwoordigheid van ’n siel is nie iets wat ’n mens in ’n laboratorium kan bewys nie, maar die feit dat ’n menslike individu vanaf die oomblik van ontvangenis aanwesig is, kan nie ontken word nie. As Katolieke glo ons dat die lewe van elke menslike individu oneindig kosbaar en heilig is – elke mens het sy oorsprong in God en is volgens die beeltenis van die Skepper geskape. (Gen. 1:27)
Lees gerus: Exodus 20:13; Job 12:10; Job 31:15; Psalm 51:7; Psalm 82:3-4; Psalm 139:13-16; Spreuke 24:11; Jesaja 44:2; Jesaja 49:1, 5; er. 7:6; Handelinge 17:28; Galasiërs 1:15; 1 Johannes 3:15.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘Die menslike lewe moet volstrek geëerbiedig en beskerm word vanaf die oomblik van ontvangenis/konsepsie. Vanaf die eerste oomblik van sy bestaan moet die regte van die persoon vir elke menslike wese erken word – hieronder geld die onskendbare reg op die lewe, ’n reg wat elke onskuldige wese toekom.’ (Par. 2270).
​
​ << Previous | Next >>
​
​