top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

37. HOEKOM GLO ONS AS KATOLIEKE DAT DIE GEBRUIK VAN VOORBEHOEDMIDDELS VERKEERD IS?

 

Dit was nog altyd ’n leerstelling van die Katolieke Kerk dat die gebruik van kunsmatige voorbehoedmiddels tydens die seksuele daad verkeerd is. Tot ongeveer 1930 het alle Christelike groeperinge dit geglo – sedertdien het die ander Christelike kerke die een na die ander ingegee onder die druk van die wêreld sodat dit vandag feitlik nog net die Katolieke Kerk is wat getrou is aan dié antieke leerstelling van die Christelike geloof. Die Bybelse grondslag van hierdie geloof word die duidelikste uitgedruk deur die sonde van Onan: ‘ Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om vir sy broer geen nageslag te gee nie. En dit was verkeerd in die oë van die Here wat hy gedoen het; daarom het Hy hom ook laat sterwe.’(Gen. 38:9-10).

 

Om enige vorm van voorbehoedmiddels te gebruik is om doelbewustelik ontvangenis/konsepsie uit te skakel en so as’t ware ‘God se hande te bind’. Dit gaan teen die natuurlike wet. Aan die ander kant respekteer Natuurlike Gesinsbeplanning die natuurlike orde, veral wanneer egpare hulself van seks weerhou tydens die vrou se vrugbare periode. Dit is heel normaal en aanvaarbaar vir ’n egpaar om hul kinders se geboortes te wil reguleer of om vir een of ander rede te besluit dat hulle nie verdere kinders wil hê nie. Daar is niks hiermee verkeerd nie en dit is moreel regverdigbaar. Dit gaan egter oor die manier hoe so ’n egpaar te werk gaan. Katolieke moraal teologie leer ons dat God ’n natuurlike ritme ingebou het in die vrou se liggaam. Daar is tye elke maand wanneer ’n vrou van nature onvrugbaar is en dus nie ’n kind kan ontvang nie. ’n Egpaar wat hul kinders wil ‘beplan’ maak dus van hierdie natuurlike metode gebruik en beperk hul seksuele omgang tot die vrou se onvrugbare tye. Hierdie natuurlike weerhouding van seks kan ’n egpaar se waardering vir mekaar versterk en ’n openhartige en gesonde mentaliteit oor die rol van seks in hul huwelik by hulle aankweek.

 

Die Bybel beklemtoon dit keer op keer dat kinders ’n seëning van God is en ’n mens moet waak teen die ‘voorbehoedmiddel mentaliteit’ van ons moderne samelewing wat al te dikwels op selfsug gegrond is. Kortstondige plesier sonder ’n sin van verantwoordelikheid en seksuele promiskuïteit (met al die persoonlike pyn en gebrokenheid wat daarmee gepaard gaan) het die simptome van ons siek samelewing geword – ’n samelewing waar eensaamheid katastrofiese afmetings neem en verhoudinge tussen mense van korte duur is. ’n Waardevolle analogie kan tussen seks en om te eet getrek word: Wanneer ’n mens eet ervaar ’n mens beide voeding (die primêre doel van eet) en plesier. Om slegs vir plesier te eet is onnatuurlik en ongesond. Seks is ’n Goddelike gawe wat daar is vir beide voortplanting en die plesier (waardeur hul innigheid met mekaar versterk word) van die egpaar – waar dié twee aspekte van seks van mekaar geskei word vind ’n mens iets onnatuurliks en ongesond.

 

Lees gerus: Genesis 1:27-28; Genesis 9:1; en. 17:6, 20; Genesis 28:3; Genesis 38:8-10 (vgl. Deuteronomium. 25:5-10); Exodus 23:26; Levitikus 15:19; Levitikus 26:9; Deuteronomium 7:14; 1 Kronieke 255; Psalm 127:3-5; Psalm 128:3; Spreuke 30:16; 1 Korintiërs 7:5.

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘Die aard van die huwelik en die liefde wat daar in die huwelik heers is gegrond op voortplanting en opvoeding – daarin vind ’n mens die kroon van die huwelik. Kinders is die mooiste geskenk van die huwelik en dra in ’n hoë mate by tot die welsyn van die ouers self. God het gesê: ‘ Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.. (Gen. 2:18), dus het Hy ‘..hulle van die begin af man en vrou gemaak..’ (Matt. 19:4) en God het dit dus so gewil dat die mens op ’n besondere wyse kan deelneem aan God se eie skeppingswerk; daarom het Hy die mens geseën en gesê: ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde...’ (Gen. 1:28). Daarom is die hele huwelik, net soos die gesinslewe wat daaruit groei, en sonder om afbreuk te doen aan die ander doeleindes van die huwelik, daarop gemik dat die eggenotes bereid sal wees om saam te werk met die liefde van die Skepper en Verlosser, wat deur hulle voortdurend sy gesin uitbrei en verryk’. (Par. 1652).

​

​

  << Previous    |     Next >> 

​

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page