top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

36. WAT LEER DIE KATOLIEKE KERK OMTRENT EGSKEIDING EN ONTBINDING?

 

Die Katolieke Kerk leer ons dat ’n geldige, sakramentele huwelik tussen twee gedoopte Christene ’n permanente of onbreekbare lewensstaat is. Geen persoon of geen aardse mag beskik oor die bevoegdheid om so ’n band te verbreek nie. Die Here Jesus het hierdie waarheid baie duidelik gemaak: ‘Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.’ (Matt. 19:6) Vir Katolieke is egskeiding dus nie ’n opsie nie. Dieselfde teks uit Matteus wat so pas aangehaal is dui wel aan dat die Jode van Jesus se tyd met egskeiding bekend was. Jesus maak dit egter duidelik dat daar net een ding is wat die huweliksband tussen twee mense ongedaan kan maak: Dit is as die huwelik in die eerste plek ongeldig was. Dit is na hierdie ongeldigheid dat Jesus verwys het toe Hy gesê het: ‘...elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander trou, pleeg egbreek..’ (Matt. 19:9) Daar is dus sekere dinge wat ’n huwelik tussen twee mense ongeldig kan maak. In so ’n geval kan daar by die Kerk om ’n ontbinding aansoek gedoen word – let wel: ’n ontbinding is geen Katolieke egskeiding nie! ’n Ontbinding is ’n verklaring deur die Kerk dat daar in die eerste plek nie ’n geldige sakramentele huwelik tussen ’n betrokke egpaar plaasgevind het nie. Onthou dat ons onderskei tussen ’n siviele huwelik (die regsgeldige staatshuwelik wat wel egskeiding toelaat) en ’n sakramentele huwelik (die onbreekbare band tussen twee gedoopte Christene, wat een van die Sewe Sakramente van die Kerk is).

 

In die onderskeid wat die Kerk maak tussen ’n ‘staatshuwelik’ en ’n ‘kerkhuwelik (sakramentele huwelik)’ vind ’n mens ’n ooreenkoms met die onderskeid in die Ou Testament tussen ’n wettige vrou en ’n bywyf (Gen. 21:10-14; Rigt. 8:31; 1 Kor. 7:15). In die boek Esra lees ’n mens oor die Israeliete wat met vreemde vroue getroud was, maar uit gehoorsaamheid aan hul godsdiens dié vroue weggestuur het: ‘Maar hulle het hul hand daarop gegee dat hulle hul vroue sou wegstuur...’. (Esra 10:19; lees ook Esra 9:1-2, 14-15; 10:1-19, 44) Hier het ons heel duidelik te doen met ’n vroeë vorm van ontbinding: Die huwelike wat aangegaan is tussen Israeliete en nie-Israeliete is as ongeldig beskou omdat dit teen hul geloofsbepalings ingedruis het. Hier het dit nie net gegaan oor die feit dat dié vrouens nie-Israeliete was nie, maar dat hul huwelike daartoe gelei dat hul mans vreemde gode/afgode begin aanbid het (sien ook Deut. 17:17; Neh. 13:23-28).

 

Lees gerus: Genesis 1:26-31; Genesis 2:18-25; en. 17:15-21; Genesis 21:12-20; Maleagi 2:14; Matteus 5 :31-32; Matteus 19:1-9; Markus 10:2-11; Lukas 16:18; Romeine 7:2-3; 1 Korintiërs 7:1-24; 1 Korintiërs 7:39; Galasiërs 4:21-31; Efesiërs 5:2, 21-33; Hebreërs 13:4; 1 Petrus 3:1-9.

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘ Die hoofpersone van die huweliksverbond is ’n gedoopte man en ’n gedoopte vrou, wat vry is om die huwelik te sluit en in vryheid hul instemming tot die huwelik gee:

 

‘Vry’ beteken:

om nie onder dwang te trou nie;
nie belet is om te trou deur ’n wet van die natuur of van die Kerk nie.

 

Die Kerk beskou die instemming (consensus) van die eggenotes as ’n onontbeerlike element ‘ waardeur die huwelik tot stand kom’. Sonder hierdie vrye instemming is daar geen huwelik nie.

 

Dié instemming bestaan uit ’n ‘menslike daad waardeur die eggenotes hulself wedersyds aan mekaar gee en mekaar wedersyds ontvang’: ‘Ek neem jou as my vrou. Ek neem jou as my man’. Hierdie instemming waardeur beide persone met mekaar verbind word, kom tot voltooiing wanneer hulle ‘ één vlees word’. Die instemming moet ’n daad van die wil van elkeen van die twee partye wees, vry van dwang of ernstige vrees van buite af. Hierdie instemming kan deur geen enkele menslike mag vervang word nie. As hierdie vryheid ontbreek is die huwelik ongeldig.

 

Om hierdie redes (of om andere redes wat die huwelik nietig kan maak) kan die Kerk, nadat die betrokke situasie deur ’n bevoegde Kerklike regsbank ondersoek is, ‘die huwelik nietig verklaar (m.a.w. ontbind)’, dit wil sê dat die kerk vasstel dat die huwelik nooit bestaan het nie. In hierdie geval staan dit beide partye vry om te trou (al moet hulle hulself uiteraard hou aan hul natuurlike verpligtinge (byv. die kinders) wat voortvloei uit hul voorafgaande verbintenis.’ (Par. 1625-1629)

​

​

  << Previous    |     Next >> 

​

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page