CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
35. HOEKOM VEREER ONS KATOLIEKE VIR MARIA EN DIE HEILIGES?
Ons vereer die heiliges in die hemel omdat hulle daarin geslaag het om deur hul gehoorsaamheid aan God se Wil hul eie lewens so te verander dat hulle God se beeltenis kon uitstraal. Hierdie is die ideaal van alle Christene: ‘En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.’ ( 2 Kor. 3:18) . God is soos ’n skilder wat die eer ontvang wanneer sy skilderye (die heiliges) geprys word. God alleen word aanbid en dit is slegs deur sy genade dat mense heilig (en dus heiliges) kan word. Die heiliges lewer aan ons lewende en aardse getuienis dat die Evangelie inderdaad doenbaar en uitvoerbaar is in elkeen van ons se lewens. Die heiliges en veral die Geseënde Maagd Maria is rolmodelle vir ons – mense wat ons kan naboots om self heilig te word. Dit is veral die Heilige Maagd Maria wat vir ons die perfekte voorbeeld is van iemand wat haarself totaal ondergeskik gestel het aan die Wil van God.
As Katolieke onderskei ons tussen verskillende vorme van verering: Vir dié tipe verering wat die heiliges toekom gebruik ons die Griekse woord ‘douleia’ . Die hoër tipe verering wat aan die Geseënde Maagd Maria gegee word staan bekend as ‘hyperdouleia’. Aanbidding, oftewel ‘latreia’ is iets wat God alleenlik toekom. Hierdie onderskeid is Bybels: In die Nuwe Testament van die Heilige Skrif kom die Griekse woord ‘douleia’ vyf keer voor (Rom. 8:15, 21; Gal. 4:24; 51; Hebr. 2:15) – let wel dat dié woord nie een keer na God verwys nie! Verder kom daar heelwat verwante woorde voor (douleuo, doule, doulon, doulos, douloo) met die algemene betekenis van ‘diens’ of ‘diensskap’. Hierdie woorde verskyn in totaal 168 keer in die Bybel. Die Griekse woord ‘latreia’ kom op sy beurt ook vyf keer in die Nuwe Testament voor en is slegs op God van toepassing ( Joh. 16:2; Rom. 9:4; 12:1; Hebr. 9:1, 6). Die verwante woord latreuo verskyn 21 keer in die Bybel.
Lees gerus: 1 Korintiërs 4:16; Filippense 3:17; 2 Tessalonisense 3:7-9 (vgl. 1 Korintiërs 11:1; 1 Tessalonisense 1:6); Hebreërs 11:1-39; Hebreërs 12:22-23; Jakobus 5:10-11; Openbaring 21:27.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘Deur sommige gelowiges heilig te verklaar, d.w.s. deur plegtig af te kondig dat hierdie gelowiges op heldhaftige wyse die deugde beoefen het en hul lewens getrou aan God se genade gelei het, erken die Kerk die krag van die Gees van heiligheid wat in haar is. Deur hierdie heiligverklaarde gelowiges as voorbeelde en voorsprekers aan die res van die gelowiges te gee word alle gelowiges se eie hoop om heilig te kan word versterk. Hierdie heilige manne en vroue was altyd in die moeilikste tye van die Kerk se geskiedenis die bron en oorsprong van ’n vernuwing gewees. In die Kerk is heiligheid die geheime bron en onfeilbare maatstaf van die Kerk se apostoliese werk en die besieling vir haar sending.’ (Par. 828).
​
​
​
​