CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
34. HOEKOM MAAK ONS AS KATOLIEKE DIE KRUISTEKEN EN KNIEBUIG ONS IN DIE KERK?
Om voor die tabernakel te kniebuig (om die regterknie tot op die grond toe te buig en weer op te staan) en die kruisteken te maak is tekens van ons aanbidding van Jesus Christus. As Katolieke glo ons en weet ons dat Jesus waarlik teenwoordig is in die Heilige Misoffer en in die gekonsekreerde brood (hosties), wat nou die Liggaam, Bloed, Siel en Goddelikheid van onse Here geword het. Dus aanbid ons die Here, net soos die mense alreeds tydens sy lewe op aarde voor Hom gebuig (Matt. 28:9) en Hom aanbid het. Hierdie liggaamlike uitinge van ons geloof kom voort uit dit wat ons omtrent die Heilige Mis glo: Tydens die konsekrasie, wanneer die priester die Heilige Gees afroep oor die gawes van brood en wyn, verander dié gawes substansieël (die Katolieke beginsel van transsubstansiasie, m.a.w. ’n verandering in wese) in die Liggaam en Bloed van Christus. Alhoewel ons sintuie nog die gedaantes van brood en wyn waarneem weet ons (en kyk ons nou met die oë van geloof) dat dit nou die Here Jesus self is wat op ons altaar aanwesig is as voedsel vir ons siele. Wanneer ons dus kniebuig, is dit teenoor Hom – wanneer ons as Christene vir Jesus sien kan ons nie eintlik anders as om op ons knieë te gaan en ons Here en Verlosser te aanbid nie.
Die kruisteken (die gebaar om die kruisteken met die regterhand vanaf die voorhoof na die bors en dan vanaf die linker- na die regterskouer te maak) is meer devosioneel en bepeinsend van aard. Reeds teen die tweede eeu was daar sprake van Christene wat dié ‘teken van die Here’ (soos dit destyds bekend gestaan het) gebruik het om hulself en medegelowiges aan Christus se kruis en terselfdertyd aan die Drie-enige God te herinner. As Christene roem ons in die kruis van die Here: ‘ Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.’ (Gal. 6:14). In die jaar 240 het Tertullianus (c.160 - c.225) die volgende geskryf: ‘Op al ons reise, by ons aankoms en by ons gaan, wanneer ons ons klere of skoene aantrek, wat ons ookal doen, maak ons die teken van die kruis op ons voorkoppe’. St. Efrem wat in die jaar 373 oorlede is het dit as volg gestel: ‘My kind, merk al jou handelinge met die lewegewende teken van die kruis. Moenie jou voordeur verlaat sonder dat jy jouself met dié teken gemerk het nie. Of jy nou besig is om te eet of te drink, of jy nou gaan slaap of op reis vertrek of terugkeer huistoe, doen dit alles met die kruisteken. Daar is geen beter gewoonte as dit nie. Die kruisteken sal jou help om ’n beskermende muur om al jou aksies op te bou. Dra hierdie gebruik oor aan jou kinders sodat hulle ook beveilig mag word.’ St. Basilius (c.330-379) was daarvan oortuig dat die eerste generasie Christene hierdie gebruik by die Apostels geleer het.
Wanneer ’n mens die kruisteken maak is jy besig om as’t ware ’n mini-weergawe van die Christelike geloofsbelydenis af te lê. Die kruisteken is ook ’n merk van ons dissipelskap – ons eie bereidwilligheid om ons kruise op te tel en Jesus na te volg. Hierdie gebruik is een van die oudste in die Christelike Kerk. Die vroeë Christene sou heel duidelik baie tuis in ons moderne Katolieke Kerk gevoel het. Aksies soos ons kniebuiging voor die Allerheiligste Sakrament (in die tabernakel ) of die maak van die kruisteken noem ons sakramentele. Hierdie aksies dien as hulpmiddels in die Christelike lewe – deur ’n uitwendige handeling word ons inwendig gefokus op dit wat vir ons lewensbelangrik is. Katolieke doop hul vingers in wywater wanneer hulle by ’n kerk ingaan as herinnering aan hul doop wat geskied het ‘ in die Naam van die Vader, en van die Seun, en van die Heilige Gees’. (Matt. 28:19)
Lees gerus: Eségiël 9:4; Matteus 2:11; Matteus 8:2; Matteus 9:18; Matteus 15:25; Matteus 20:20; Matteus 28:17; Lukas 24:52; Johannes 9:38; 1 Korintiërs 2:2; Galasiërs 6:14; Filippense 2:9-11; Openbaring 5:8; Openbaring 7:3; Openbaring 14:1.
​
​
​