top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

33. HOEKOM MOET KATOLIEKE DIE HEILIGE MIS OP SONDAE EN DAE VAN VERPLIGTING BYWOON?

 

’n Katoliek wat (sonder ’n geldige rede) nie die Heilige Mis op ’n Sondag of ’n Dag van Verpligting bywoon nie verkeer in ’n toestand van doodsonde en mag nie Heilige Kommunie gebruik alvorens hy/sy eers weer deur die Sakrament van Versoening (die Bieg) sy/haar verhouding met God en sy Kerk reggemaak het nie.

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘ Die eerste gebod van die Kerk (op Sondae en verpligte feesdae moet ons deelneem aan die Eucharistie) vra van die individuele gelowige deelname aan die Eucharistieviering waarvoor die Christelike gemeenskap byeen kom op dié dag waarop ons die opstanding van die Here herdenk.’ (Par. 2042)

 

Hierdie verpligting om die Heilige Mis (die Eucharistie) by te woon volg uit die toepassing van die ‘Sabbat beginsel’, wat God ingestel het toe hy die Tien Gebooie aan Moses gegee het. Die Derde Gebod lui so: ‘ Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.’ (Ex. 20:8; vgl. Ex. 23:12; 31:15-17; Deut. 5:12, 15). Die sabbatdag was veronderstel om ’n rusdag te wees, toegewy aan God – ’n dag van aanbidding en bepeinsing oor ’n mens se verhouding met God. Die sewende dag van die week is gekies om die sabbatdag te wees na aanleiding van die Skeppingsverhaal waarin God alles in ses dae geskep het en op die sewende dag gerus het (Ex. 20:11). Die vroeë Christene (wat aanvanklik almal Jode was) sou dus ook die sabbatdag op die Saterdag (die sewende dag van die week) gevier het – omdat hulle hulself as deel van die Joodse geloof beskou het is hulle op die Saterdag na die sinagoge terwyl hulle op die Opstadingsdag (Op. 1:10), die Sondag (die eerste dag van die week), die Eucharistie tuis gevier het. Ná die beslissende breek met Judaïsme (in die sestiger en sewentiger jare van die eerste eeu) en ook omdat die meeste Christene nou nie meer Joods was nie (en die sinagoges nie lede van wat hulle as die Christelike sekte beskou het toegelaat het nie) het die gebruik om Saterdag na die sinagoge te gaan verval. Van nou af is slegs die Sondag gevier en baie van die gebruike rondom die viering van die Sabbat is op die Sondag oorgedra. Van nou af het die Liturgie van die Woord (wat voorheen deel uitgemaak van die sinagogediens deel begin word van die Eucharistieviering). Hierdie was maar net een van die vele veranderinge in aanbidding wat dié oorgang tussen die Ou Verbondsvolk (ekslusief die Joodse volk) na die Nuwe Verbondsvolk (alle gelowiges in Christus) gekenmerk het.

 

As Christene glo ons dat hierdie noodsaaklike veranderinge was wat deur die ingewing van die Heilige Gees geskied het – ons Christene is mos nie pseudo-Jode nie: Alhoewel die oorsprong van baie van ons Christelike geloofspraktyke in dié van die Ou Testament gegrond is het daar met die koms van die Messias en die Nuwe Verbondsvolk wat Hy versamel het (die Kerk) ook baie noodsaaklike veranderinge in ons manier van aanbidding ingetree. Die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom is die feit dat die mens Jesus Christus uit die dood opgestaan het – niks sou ooit weer dieselfde wees nie – dit is net gepas dat die dag van sy opstanding, die eerste dag van die week, die Sondag, van toe af as die Sabbatdag gevier sou word. Interessant om op te let hoe die Protestantse (onBybelse) beginsel van sola Scriptura hier (soos op talle ander plekke in die Heilige Skrif) faal: Katolieke kan hul kerktoe gaan op Sondae regverdig omdat dit die oorgelewerde gebruik (Tradisie) van die vroeë Kerk was – Protestante erken egter nie die Tradisie nie en moet dus uit die Skrif aanhaal om te bewys dat dit ’n Christelike verpligting is om op ’n Sondag kerk toe te gaan en die Sondag as die Sabbatdag te heilig – nêrens in die Bybel staan dit egter dat Sondag nou as Sabbatdag geheilig moet word nie.

 

Om op ’n Sondag kerk toe te gaan en deel te neem aan die Heilige Eucharistieviering is ’n geweldige voorreg en die reg en verpligting van elke Christen. Dit is absoluut noodsaaklik vir ’n gesonde geesteslewe. Hierdie weeklikse aanbidding is werklik die minimum vereiste vir enige tipe van geestelike lewe. Die Kerk weet hoe belangrik dit vir ons is om die Eucharistie die fokus en middelpunt van ons lewens te maak – daarom het die Kerk in haar wysheid en soos dit haar plig is om te doen die Sondagverpligting tot ’n gebod van die Kerk verhef. Deel van die Kerk se taak op aarde is op sekere norme en verpligtinge daar te stel as maatstawwe vir geestelike ontwikkeling – die Sondagverpligting tel onder die belangrikstes.

 

Lees gerus: 2 Kronieke 36:21; Nehemia 13:15-22; Matteus 12:5; Matteus 28:1; Markus 1:21; Markus 2:27-28; Markus 3:4; Markus 16:1-2; Lukas 24:1; Johannes 7:23; Johannes 9:14, 16; Johannes 20:1; Handelinge 2:42-46; 1 Korintiërs 11:17; Hebreërs 10:25; Hebreërs 12:22-23.

​

​

  << Previous    |     Next >> 

​

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page