top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

32. IS DAAR BYBELSE GEBEDE WAT NET SO HERHALEND IS SOOS DIE ROSEKRANS EN LITANIEË VAN DIE KATOLIEKE KERK?

 

Onkundige mense voer dikwels aan dat herhalende en/of formele gebede (soos die Rosekransgebed) verbied word volgens Jesus se woorde in Matteus 6:7: ‘ En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie...’ Wat het Jesus regtig hier gesê: In die eerste plek was Hy besig om die ydele herhaling van woorde te verbied, nie dié herhaling van woorde nie – dit gaan hier oor die ydele, m.a.w. nuttelose herhaling van woorde. Die Griekse woord ‘battalogeo’ wat hier gebruik word het betrekking op ’n meganiese herhaling van betekenislose woorde of frases wat spesifiek in die heidense godsdienste voorgekom het – ook die Jode het herhalende tipe gebede geken maar by Jesus gaan dit hier oor die heidene se manier van bid. Die Here is dus hier besig om gebede te verbied wat sonder die nodige respek en eerbied teenoor God gebid word – gebede wat as towerspreuke of rympies opgesê word in die bygelowigheid dat so ’n herhaling van woorde iets sal laat gebeur. Soos altyd gaan dit by Jesus oor die innerlike ingesteldheid van die persoon wat bid (sien byv. Jes. 1:11-15; Matt. 7:20-23, 15:9) en nie oor die uiterlike manier van bid nie. God sien die hart van die persoon wat bid. Vanaf die vroegste tye het feitlik alle Christene nog altyd sekere vasgestelde gebedsformuliere en geloofsbelydenisse gebruik: Dink maar aan die Apostoliese Geloofsbelydenis of die Geloofsbelydenis van Nicea of die Onse Vader-gebed wat deur Jesus self as die volmaakte gebed aan sy dissipels voorgehou is.

 

Die Jode het daagliks die psalms gebid (en dié gebruik sou ook deel van Jesus se eie gebedslewe uitgemaak het). In Psalm 136 word die frase ‘want sy troue liefde hou nooit op nie’ ses en twintig keer herhaal! Die antieke Hebreërs het die herhaling van woorde gebruik as ’n metode om sekere belangrike dinge te beklemtoon. Nog ’n beroemde voorbeeld van herhalende gebed in die Heilige Skrif vind ’n mens in die verhaal van Sadrag, Mesag en Abednego wat deur koning Nebukadnésar in ’n brandende oond gegooi is omdat hulle nie ’n afgod wou aanbid nie (Dan. 3:19-23). In die brandende oond het hierdie jongmanne ’n lofsang van nege en dertig verse gesing waarin die frase ‘prys en verhef Hom vir altyd’ oor en oor herhaal word (Dan. 3:52-88). Die belangrike punt om te onthou is dat Jesus nie die herhaling van sekere gebede of gebede wat herhalend van aard is verbied het nie – Hy het die ydele herhaling van betekenislose gebede (m.a.w. gebede wat nie uit die hart gebid is nie) verbied.

 

Oor gebedsformuliere en –vorme stel die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK dit as volg: ‘ In die eerste instansie gaan dit hier om die gebede wat die gelowiges hoor en lees in die Heilige Skrif. Aan hierdie gebede, veral aan dié van die psalms gee ons sedert hul vervulling in Christus ’n aktuele inhoud. Die Heilige Gees, wat so by sy biddende Kerk telkens Christus weer in herinnering roep, lei dié Kerk ook tot die volledige waarheid en laat nuwe formuleringe ontstaan wat uitdrukking sal gee aan die ondeurgrondelike misterie van Christus, Hy wat werksaam is in die lewe, in die sakramente en in die sending van die Kerk. Hierdie formuleringe ontwikkel vanuit die groot liturgiese en geestelike tradisies van die Kerk. Hierdie gebedsvorme, soos die kanonieke geskrifte van die apostels hulle aan ons openbaar, bly normatief vir alle Christelike gebed.’ (Par. 2625).

​

​

  << Previous    |     Next >> 

​

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page