CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
31. WAT SÊ DIE BYBEL OMTRENT DIE VERERING VAN RELIEKE?
’n Reliek is ’n voorwerp wat verband hou met ’n heilige persoon. Die Kerk onderskei tussen drie klasse van relieke. ’n Eersteklas reliek is ’n gedeelte van ’n heilige se liggaam. Die mees direkte Bybelse bewys vir die gebruik van relieke en in die besonder van ’n eersteklas reliek vind ’n mens oor die profeet Elisa: ‘ Daarna het Elisa gesterwe en hulle het hom begrawe. En die bendes van die Moabiete het die land ingekom met die ingang van die jaar. En terwyl hulle besig was om ’n man te begrawe, sien hulle meteens die bende; daarom het hulle die man in die graf van Elisa gegooi; en toe die man met die gebeente van Elisa in aanraking kom, het hy lewendig geword en opgestaan op sy voete.’ (2 Kon. 13:20-21).
’n Tweedeklas reliek is iets wat deur ‘n betrokke heilige gebruik is, byvoorbeeld kledingstukke. Van hierdie tipe reliek lees ’n mens ook in die Bybel: ‘ En hy (Elisa) neem die mantel van Elia wat van hom afgeval het, en slaan op die water...En toe hy op die water slaan, is dit na weerskante verdeel, en Elisa het deurgegaan.’ ( 2 Kon. 2:14). Op hul beurt is derdeklas relieke dinge wat in aanraking gekom het met ’n eersteklas reliek. Die Bybel meld ook dié tipe relieke: ‘ En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.’ (Hand. 19:11-12). Ons verering van relieke kom voort uit die eerbetoning wat ons aan die heiliges gee as voorbeelde van God se genade, liefde en heiligheid. Ons Katolieke siening van realiteit is ’n Sakramentele en Bybelse siening: Stoflike dinge, die materiële, kan geleiers van God se genade wees. Ons glo dat die Doopwater werklik ’n kanaal word waardeur die Heilige Gees beweeg – net so weet ons dat die Eucharistiese gedaantes van brood en wyn werklik die Liggaam en Bloed van Jesus Christus bevat. Ons verering en siening van relieke berus op hierdie antieke Christelike beginsel.
​
​
​
​