top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

30. HOEKOM IS DAAR BEELDE IN KATOLIEKE KERKE?

 

In ons Katolieke kerke vind ’n mens beelde en prente: Uitbeeldings van Christus, Maria, die engele en die heiliges. Hierdie visuele middele help ons fokus op dit wat God vir ons doen en beteken. Alhoewel God onsigbaar is en dus nie uitgebeeld kan word nie, het God Homself ‘vermenslik’ deur in Jesus Christus vlees aan te neem. Die afbeeldings en uitbeeldings van Christus in ons kerke en in ons wonings kan as noodsaaklik beskou word om ons aan hierdie kernpunt van ons geloof te herinner. Die beelde en prente (en ikone in die Oosterse Christelike tradisie) van die heiliges help ons weer om die helde van ons Christelike geloof te gedenk. Nie net is die beelde en uitbeeldings in ons kerke glad nie afgodsbeelde nie, maar daar is absoluut niks in die Heilige Skrif wat hierdie antieke Christelike gebruik afkeur nie. Die groot Kerkvader, St. Hieronymus (c.342-420) het die volgende oor die vroeë Christene se verering van die heiliges gesê: ‘ Ons verering van die dienaars weerkaats altyd terug na die Here van die dienaars’. Die heiliges is God se spesiale vriende en hulle word uitgebeeld om ons te inspireer om ook God se spesiale vriende te word. Geen Katoliek wat enigiets omtrent sy/haar geloof weet het nog ooit voor ’n beeld neergekniel om dié beeld te aanbid nie.

 

Die Tweede Gebod lui as volg: ‘ Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God...’(Ex. 20:4-5). Wat is God besig om hier te verbied? Dit is heel duidelik dat dit hier oor afgodery gaan en beslis nie die maak van afbeeldings nie! (God, die grootste kunstenaar van alle tye, gee juis aan ons mense die vermoë om Hom op skeppende wyse deur kuns te verheerlik!). Die Israeliete was omring deur volke wat beelde aanbid het en daar is genoeg bewyse dat die Verbondsvolk self by tye in hierdie bygelowigheid verval het - God wou ’n einde aan hierdie gebruik maak. ’n Afbeelding is slegs ’n afgod as dit die voorwerp van aanbidding word. In dieselfde Bybelboek wat die Tien Gebooie bevat vind ons talle opdragte van God aan die volk om afbeeldings te maak: ‘ Maak ook twee gérubs van goud...’ (Ex. 25:18). Is God besig om Homself te weerspreek – geensins nie! Die antieke Jode is aangemoedig om afbeeldings van hemelse wesens te maak. Nie een van ons wat ’n foto album van ons geliefdes besit of in ’n stad woon waar daar standbeelde op openbare plekke aangebring is sal vir ’n oomblik dink ons is besig om die Tweede Gebod te oortree nie – en ons is ook nie. Die Jode het al dié plekke waar hulle die één God aanbid ryklik versier en as Christene doen ons dit nog. Net die beste en mooiste is goed genoeg vir God – ons kerke is gewyde ruimtes wat aan God en God alleen toegewy is en ons span al ons menslike talente in om van ons Godshuise ware tempels te maak. Hoe skandelik as ons eie wonings beter versier en rykliker daaraan toe is as ons kerke!

 

Die Bybel maak dit duidelik dat ons omring is deur ‘... ’n groot wolk van getuies...’ (Hebr. 12:1). Hierdie verwys na die heiliges in die hemel – gewone aardse manne en vroue wat deur hul lewens getoon het dat die evangelie inderdaad doenbaar en uitvoerbaar is. Hierdie skare verdien ons ‘eerbetoning’ (Rom. 12:10), omdat hul lewens ons eie inspireer en ons aanspoor op ons eie pad na heiligheid. Die heiliges en die engele waak oor ons en bid vir ons. Om by God uit te kom maak ons van alles en almal gebruik wat ons tot hulp kan wees.

 

Lees gerus: Psalm 34:7; Psalm 91:11; Tobias 12:12, 15; Matteus 18:10; Lukas 15:10; handelinge 12:15; 1 Korintiërs 4:9; Hebreërs 1:14; Openbaring 3:1; Openbaring 4:5; Openbaring 5:6-8; Openbaring 8:3-4.

​

​

  << Previous    |     Next >> 

​

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page