CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
29. WAT IS ’N AFLAAT – IS DIT BYBELS?
As daar nou één Katolieke gebruik is wat baie misverstaan word dan is dit dié van aflate. Dikwels hoor ’n mens die bewering dat Katolieke deur middel van aflate hul sondes probeer afkoop of vir hulleself toegang tot die hemel probeer koop. ’n Mens kan hulle ook nie altyd kwalik neem nie. Dit is ongelukkig so dat daar in die verlede, veral in die laat Middeleeue en in die dekades wat die Protestantse Hervorming voorafgegaan het, sekere misbruike van aflate deur individuele priesters en biskoppe plaasgevind het. En daar was selfs gevalle waar aflate letterlik verkoop is. Nooit was hierdie misbruike egter deel van die amptelike leerstellinge van die Katolieke Kerk nie. Die Kerk Konsilie van Trente (1545-1563) het hierdie tipe van korrupsie streng aangespreek. Waaroor gaan aflate dan nou eintlik? Om dit in eenvoudige Afrikaans te stel: Wat ’n mens verbrou het moet jy regmaak. Om waarlik berou vir ’n mens se sondes te hê moet ’n mens alles in jou vermoë doen om dit wat jy verkeerd gedoen het (die seer of skade wat jy deur jou sondes aan ander gedoen het) te probeer regmaak. Natuurlik ontvang ons vergifnis vir ons sondes as ons opreg berou het, maar die tydelike straf wat ons oor onsself bring wanneer ons sondig, bly nog staan. ’n Mens wat ’n misdaad begaan het moet nog steeds die straf daarvoor uitdien alhoewel hy/sy dalk opregte berou daarvoor getoon het en dus die Here se vergifnis ontvang het. Hierdie straf vir ’n sonde wat ons in hierdie lewe of in die hiernamaals (in die vaevuur) sal moet verduur noem ons tydelike straf (omdat dit binne tyd plaasvind).
In die vroeë Christelike Kerk is sekere sondes gestraf met ’n langdurige openbare boetedoening (dit kon weke, maande en selfs jare duur). Iemand wat hierdie straf vir sondes moes uitdien is ’n boeteling genoem. Die Kerk was egter baiekeer barmhartig en het dikwels dié boetelinge, wat die regte ingesteldheid getoon het of sekere liefdeswerke gedoen het ’n aflaat van hierdie straf gegee – m. a. w. hul lang boetedoening is dus deur die Kerk opgeskort. Die Kerk het die gesag om dit te kan doen van haar Here ontvang: ‘... alles wat julle op aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.’ (Matt. 18:18). As gelowiges glo ons dat die merietwaardige lewens van Christus en sy heiliges ’n bron van genade vorm wat deur die eeue tot die beskikking van die Kerk is. Deur middel van aflate kan die Kerk uit hierdie bron die geestelike en tydelike straf wat ons toekom, selfs nadat ons vergifnis ontvang het, kwytskeld.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK gee die volgende definisie van die term aflaat as volg: ‘ Die leerstelling en die gebruik van aflate in die Kerk is nou verbonde met die vrugte van die Boetesakrament. ’n Aflaat is die kwytskelding voor God van dié straf wat ons verdien vir sonde waarvoor ons alreeds vergewe is. Die gelowige Christen kan, met die regte gesindheid, en onder bepaalde voorgeskrewe voorwaardes deur die toedoen van die Kerk kwytskelding vir die straf van hierdie sondes ontvang. Dit is deur die Kerk, wat as die bedienaar van ons verlossing optree, en die gesag het om uit die genadeskat van dit wat Christus en die heiliges deur hul lewens bewerkstellig het, aan ons dié genade kan uitdeel en op ons lewens kan toepas. Ons onderskei tussen ’n gedeeltelike aflaat en ’n volle aflaat, na gelang van of iemand heeltemal of gedeeltelik kwytgeskeld word van die straf vir die sonde waaraan hy/sy skuldig was. Aflate kan op lewende of oorlede gelowiges toegepas word.’ (Par. 1471).
Ons moet dit in gedagte hou dat God absolute liefde is, maar ook absolute geregtigheid: Deur sy liefde vergewe Hy ons en in sy geregtigheid vereis God vergoeding. Elke menslike opoffering en lyding wat vrywillig en uit liefde aan God gegee word, vorm deel van die hele mensdom se vergoeding teenoor God se geregtigheid. Die Katolieke Kerk gee dus as’t ware ‘krediet’ vir hierdie lyding aan mense wat waarlik berou het (net soos ’n mens se gebed vir iemand anders deur God verhoor kan word). Net soos ons vir mekaar instaan as dit by gebed kom, net so kan ons ook vir mekaar instaan as dit by opoffering kom. ’n Aflaat is dus ’n geestelike oorplasing van meriete vanaf een persoon na ’n ander – hier vind ’n mens ten diepste die gemeenskaplike en verenigde aard van die Liggaam van Christus, die Kerk, ( 1 Kor. 12:26), in werking – as lidmate van hierdie één Liggaam deel ons letterlik in mekaar se heiligheid. Net soos die Kerk die mag gekry het om sondes te vergewe, net so het die Kerk die mag gekry om ons van die straf wat op daardie sondes betrekking het, vry te stel. Al die essensiële komponente van die Kerk se leerstelling van aflate is dus heel duidelik op die Heilige Skrif gegrond.
Lees gerus: (Oor die Kerk en haar bedienaars, die priesters, se mag om te bind [boetedoening op te lê] en te ontbind [absolusie en vryspraak te gee]): Matteus 16:19; Matteus 18:18; Johannes 20:21-23; 2 Korintiërs 2:6-11. (Oor versoening met God deur die vrywillige boetedoening van die lede van die Kerk): Exodus 32:20; Numeri 16:46-48; Numeri 25:11-13; 1 Korintiërs 12:26; 2 Korintiërs 1:5-7; 2 Korintiërs12:15; Filippense 2:17; Kolossense 1 :24; 2 Timoteus 4:6. (Oor boetedoening): Genesis 3:16-19; Numeri 12:1-15; Numeri 14:19-23; Numeri 20:10-13; Deuteronomium 32:48-52; 2 Samuel 12:13-14; 2 Samuel 24:1-25; Matteus 10:38; Matteus 16:24; Romeine 12:1; 2 Korintiërs 4:10; Galasiërs 6:17; Filippense 3:10.
Voorbeelde van aflate: Om die Allerheiligste Sakrament vir ten minste ’n halfuur te aanbid is ’n volle aflaat werd. ’n Verdere volle aflaat kan verkry word wanneer die Heilige Rosekrans in ’n kerk of bidkapel, of tuis in die familiekring of deur ‘n religieuse gemeenskap of kerklike organisasie gebid word. By sekere bedevaartsoorde of pelgrimsreise of by geleentheid van ’n Jubeljaar kan verdere aflate verkry word. Om ’n aflaat te verkry moet die betrokke persoon in ’n sondelose toestand wees, m.a.w. so ’n persoon moes eers van die Sakrament van die Bieg gebruik gemaak het en die Heilige Kommunie in so ’n toestand van sondeloosheid ontvang het as voorbereiding op die aflaat.
​
​
​
​