CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
28. HOE KAN DAAR SONDAARS IN DIE EEN WARE KERK WEES?
Die Heilige Skrif maak dit heel duidelik dat die Kerk uit beide heiliges en sondaars bestaan. Christus het hierdie realiteit goed uitgebeeld in talle van die gelykenisse wat Hy vertel het, waar Hy die koninkryk van die hemel (m.a.w. die Kerk) vergelyk het met koring en onkruid wat saam opkom en groei tot op die dag van die oes: Die Laaste Oordeel (Matt. 13:24-30; vgl. Matt. 3:12). Die Here Jesus vergelyk die Kerk ook met ’n vissersnet wat allerhande tipes vis vang – goeie en slegte visse – wat uiteindelik van mekaar geskei sal word (Matt. 13:47-50). Op ’n ander plek vergelyk die Here die Kerk met ’n huweliksonthaal waar een gas uitgegooi is in die buitenste duisternis (Matt. 22:1-14). Hierdie gelykenis eindig met die bekende sinsnede: ‘ Want baie is geroep, maar min uitverkies.’ (Matt. 22:14). Hier word daar onderskei tussen dié Christene wat nie die bruilofskleed van goeie dade aan het nie en die eintlike uitverkorenes wat gered sal word. Volgens Jesus vind ’n mens albei tipes in die Kerk. Hierdie waarheid word nog verder uitgebeeld in die gelykenis van die vyf verstandige en die vyf onverstandige maagde (Matt. 25:1-3), asook die gelykenis van die talente (Matt. 25:14-30).
’n Mens moet dit ook in gedagte hou dat die Here Jesus (wat sy eie toekoms geken het) vir Judas Iskariot as sy dissipel gekies het – en Judas was waarlik ’n dissipel en apostel (Matt. 10:1, 4; Mark. 3:14; Joh. 6:70-71; Hand. 1:17). Net so verklaar St. Paulus aan die ouderlinge van Efese (die Griekse woord presbyteroi word ongelukkig hier as ouderling vertaal terwyl dit heel duidelik die woord is waarvan ons term priesters afgelei is) dat die Heilige Gees hulle opsieners, m.a.w. biskoppe (die Griekse woord episkopoi word ongelukkig hier as opsiener vertaal terwyl dit heel duidelik die woord is waarvan ons term biskoppe afgelei is) oor die gelowiges gemaak het – herders van die Kerk – en tog sou daar later uit dieselfde groep manne ketters en skismate na vore kom (Hand. 20:30). Later weerklink hierdie woorde van St. Paulus in sy tweede brief aan Timoteus: ‘ Maar in ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer.’ ( 2 Tim. 2:15-20).
Lees gerus: Matteus 7:14, 21-23; Matteus 9:37; Matteus 24:10; Lukas 13:23-24; 1 Korintiërs 3:1-4; 1 Korintiërs 5:1-2; 1 Korintiërs 11:21 (vgl. 1 Kor. 1:2); 2 Korintiërs 11:2-4; 2 Korintiërs 12:20-21 (vgl. 2 Kor. 1:1); Galasiërs 3:1-4; Galasiërs 4:9-20; Galasiërs 5:1-7; Openbaring 2:4-3:8.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘ Tog is die koninkryk van Christus, wat nou alreeds in sy Kerk teenwoordig is, nog nie volledig ‘met groot krag en heerlikheid’ (Luk. 21:27) hier nie – dit is iets wat eers sal gebeur by die Wederkoms van die Koning op aarde. Hierdie koninkryk (die Kerk) is dus nou nog in ’n situasie waar sy gepla word deur bose magte, ook al is hierdie bose magte in der waarheid reeds deur die Pase van Christus (sy Opstanding uit die dood) oorwin. Tot op daardie dag dat alles aan Hom onderwerp sal word - solank as wat die nuwe hemel en die nuwe aarde, waar geregtigheid woon, nog nie aangebreek het nie - leef die Kerk op haar aardse pelgrimstog van haar sakramente en deur haar instellinge, wat betrekking het op die verganklike gedaante van hierdie wêreld. Terwyl sy op die Koms van haar Here wag leef die Kerk ook nog te midde van skepsels wat met versugtinge in hul lyding uitsien na die openbaring van die kinders van God. Om die Wederkoms van Christus aan te moedig bid ons Christene, veral in die Eucharistie, tot Hom met dié woorde: Kom, Here.’ ( 1 Kor. 16:22; Open. 22:17, 20). (Par. 671).
​
​
​
​