CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
27. HOEKOM VEREIS DIE KERK DAT PRIESTERS SELIBAAT MOET LEEF?
Volgens St. Paulus se baie duidelike uiteensetting in 1 Korintiërs 7:7-38 en onse Here se verklaring in Matteus 19:12 kan die selibate (ongetroude) priester homself geheel en al toewy aan God en aan die gelowiges in sy sorg. Teenstaanders van dié ou Christelike gebruik voer dikwels aan dat so ’n lewe onmoontlik is, tog maak beide die Here Jesus en St. Paulus dit duidelik dat so ’n lewe wel moontlik is en verkieslik is vir diegene wat tot dié bediening in die Kerk geroep is. Om selibaat te wees beteken om nooit in die huwelik te tree nie. Niemand word gedwing om selibaat te wees nie. Selibaatskap is ’n persoonlike keuse wat berus op die diepe wete van ’n mens se roeping tot die priesterskap – hierdie is ’n roeping wat van God af kom. St. Paulus beklemtoon die goddelike beweegkrag (1 Kor. 7:7, 20) wat ’n betrokke persoon aanspoor om ‘ja’ te sê vir God se roepstem - St. Paulus lê egter ook klem op die feit dat ’n persoon wat deur God geroep word nog steeds oor ’n eie wil en inisiatief beskik (1 Kor. 7:35, 38). Waar ’n mens tot selibaatskap geroep is sal God aan hom beide die begeerte daarvoor gee asook die vermoë om dié leefwyse suksesvol uit te leef (sien Fil. 2:13). Waar iemand nie tot selibaatskap en/of die priesterskap geroep is nie behoort sy of hy in die huwelik te tree ( 1 Kor. 7:7, 9, 20, 28, 38).
Om persoonlik iets op te gee of van iets afstand te doen beteken nie dat ’n mens dit wat jy opgee as iets boos beskou nie. Tydens die Vastyd doen ’n mens afstand van baie dinge (byv. sekere voedselsoorte of gewoontes) wat nie noodwendig sleg is nie. Net so is die Katolieke Kerk geensins gekant teen die huwelik of seksualiteit nie ( 1 Kor. 7:38) solank as wat die Bybelse riglyne t.o.v. sake gevolg word. Net soos priesterwyding is die huwelik ook ’n sakrament van die Kerk: Hierdie twee sakramente staan bekend as die roepingsakramente, omdat albei dié sakramente ’n vrywillige instemming deur die betrokke persone vereis om hul lewens aan dié roepinge te wy. ’n Mens word dus deur God tot die huwelik geroep, net soos ’n mens deur God tot die selibate lewe en/of die priesterskap geroep word. Beide die huwelik en die priesterskap (en hierby word die religieuse lewe ingesluit: Broederskap of susterskap in die Kerk) kan op ’n baie positiewe en wonderbaarlike wyse kanale van God se genadegawes aan die mensdom word. Kyk net hoe roep God vir die profeet Jeremia tot die selibate lewe in die Ou Testament: ‘Jy mag vir jou geen vrou neem nie... ‘ (Jer. 16:2). Ons weet dat St. Paulus ’n enkellopende selibate man was: ‘Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek...’ ( 1 Kor. 7:8).
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘ Behalwe vir die permanente diakens word alle gewyde bedienaars van die Latynse Kerk gewoonlik gekies vanuit dié gelowige manne wat selibaat leef en die wil het om dié selibaatskap te onderhou ‘ter wille van die koninkryk van die hemel’ (Matt. 19:12). Hierdie manne word daartoe geroep om hulself geheel en al aan die Here te wy en hul lewens aan die Here se ‘saak’ te gee – so offer hulle dan hulself aan God en die mense. Die selibate lewe is ’n teken van die nuwe lewe waaraan die bedienaar van die Kerk homself toewy; met ’n blye hart aanvaar hy dié lewe en straal so die boodskap van Gods koninkryk uit.’ (Par. 1579)
​
​
​
​