CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
26. HOEKOM SPREEK KATOLIEKE HUL PRIESTERS AAN AS VADER?
In die Evangelie volgens St. Matteus lees ’n mens die volgende: ‘En julle moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.’ (Matt. 23:9). Hoekom spreek ons as Katolieke dan ons priesters as ‘vader’ aan. ’n Mens sou selfs die vraag verder kon voer en vra: Hoekom spreek ons onse aardse vaders as ‘pa’ (die woord ‘pa’ kom van die Griekse ‘papas’ wat ‘vader’ beteken) of ‘vader’ aan? Soos altyd kan ’n betrokke Skrifteks slegs binne sy konteks en die tweeduisendjarige Tradisie van die Kerk sin maak. Lees nou die hele gedeelte (Matteus 23:2-10). Hier is die Here Jesus besig om die Fariseërs te berispe oor hulle geestelike hoogmoedigheid. Die Fariseërs het hulself beskou as die geestelike vaders van die volk en die mense het na hulle opgesien om leiding en advies. Deur hul hoogmoedigheid en selfsugtige optrede was die Fariseërs egter nie besig om soos goeie vaders op te tree nie, inteendeel, hulle was besig om die gewone mense te mislei. Jesus het geensins bedoel dat ons mense nooit dié term moet gebruik nie – Hy was besig om die Fariseërs, wat hulself as die vaders van die volk beskou het, aan te vat oor hulle verkeerde optrede (hulle doen hulleself voor as vaders maar tree in werklikheid nie soos liefdevolle vaders op nie). Jesus self gebruik die term ‘vader’ in Matteus (15:4-6; 19:5, 19, 29; 21:31) en ook in Johannes (8:56) en op talle ander plekke.
Die woorde van Jesus in Matteus 23:9 is dus nie bedoel om letterlik opgeneem te word nie. Die Here Jesus beklemtoon dit baie sterk in hierdie teks dat geen aardse vader ooit die plek kan inneem van ons Hemelse Vader nie: ‘ Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie...’ (Matt. 10:37). Dit is hoe die eerste Christene hierdie teks verstaan het (beslis nie as ’n verbod om ooit die term ‘vader’ teenoor enigiemand op aarde te gebruik nie) – anders sou St. Paulus nooit die volgende aan die Korintiërs geskryf het nie: ‘... want in Christus het ek julle vader geword deur die evangelie.’ (1 Kor. 4:15; vgl. 4:14, 16). St. Paulus het goed geweet dat hy na homself as ‘vader’ kan verwys sonder om enige verbod van die Here Jesus te oortree. In die gelykenis van die ryk man en Lasarus laat Jesus vir Lasarus die aanspreekvorm ‘vader Abraham’ driemaal gebruik (Luk. 16:24, 27, 30). Die eerste Christen martelaar, St. Stefanus het ook uitgeroep: ‘ Die God van die heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotamië was...’ (Hand. 7:2). St. Paulus verwys self ook na ‘ons vader Abraham’ (Rom. 4:12; vgl. 4:16-18) en ‘ons vader Isak’(Rom. 9:10). St. Jakobus skryf ook van ‘Abraham ons vader’ (Jak. 2:21). Soos elke Bybel konkordansie dit duidelik maak kom die term ‘vader’ op talle plekke in die Heilige Skrif voor waar dit gebruik word om na mense te verwys.
Vanaf die begin van die Christelike geloof is die biskop en sy helpers, die priesters, as ‘vader’ aangespreek omdat hulle gesien is as die geestelike vaders van die gelowiges. Op ’n geestelike vlak doen ’n priester dieselfde vir die geestelike welsyn van die siele wat aan hom toevertrou is as wat ’n biologiese vader vir die materiële en liggaamlike welsyn van sy kinders doen. Dit is die priester wat by die wedergeboorte van die ‘nuwe mens’ die rol van vader vertolk wanneer hy die Sakrament van die Doop toedien. Dit is die priester wat deur sy onderrig en die Sakramente die nuwe lewe in Christus in sy parogiane voed en tot geestelike rypheid bring. Deur geen gesin van sy eie te hê nie, is die priester inderdaad ’n geestelike vader vir al die gesinne van die wêreld. Dit is net reg dat Katolieke hierdie ou en waardige Christelike gebruik deur al die eeue bewaar het en voortsit deur hul priesters met liefde en respek as ‘vader’ aan te spreek.
Lees gerus: Markus 11:9-10; Lukas 16:24; Handelinge 7:2; 1Tessalonisense 2:11; 1 Johannes 2:1, 12-14, 18, 28.
​
​
​
​