CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
25. HOEKOM BID ONS OM DIE VOORSPRAAK VAN DIE HEILIGES AS DIE BYBEL UITDRUKLIK LEER DAT JESUS DIE ENIGSTE MIDDELAAR IS (1 TIM. 2:5)?
As Christene bid ons vir mekaar – deur voorspraak vir mekaar te doen is ons dus in ’n sekere sin besig om vir mekaar middelaars te wees. Dieselfde geld vir die voorbidding van die afgestorwe heiliges – hulle is nou meer lewendig as ons, soos duidelik blyk uit wat die boek Openbaring oor hulle te sê het. Dit is dus waar dat Jesus die enigste en uiteindelike Middelaar tussen ons en God, die Vader, is, maar op ’n laer vlak is bemiddeling ook deel van ons Christelike roeping: Ons staan mekaar by en tree vir mekaar in, veral in ons gebed. God is die Skepper, tog gee Hy aan ons mense die voorreg om in sy skeppingsproses te deel deur die gawe van voortplanting (aardse vaders en moeders deel dus tot ’n mate in God se absolute vader - en moederskap). Jesus is die ‘hoof’ Herder van sy kudde (Joh. 10:11-16; 1 Pet. 5:4), tog het Hy ander/mindere menslike herders aangestel om oor sy kudde te waak (Joh. 21:15-17; Efes. 4:11). Jesus is die ‘hoof’ regter, en tog het Hy ons opdrag gegee om ook te oordeel (Matt. 19:28; 1 Kor. 6:2-3; Open. 20:4). Daar is talle Bybeltekste wat dit duidelik maak dat alle gelowiges tot ’n tipe bemiddelaarskap geroep is (1 Kor. 9:22; Efes. 3:2; 1 Tim. 4:16). Christene deel in die goddelike lewe van Jesus Christus en werk dus saam met God in sy Skepping (1 Kor. 3:9; 2 Kor. 6:1).
Deur ons samewerking met God en ons bemiddeling vir mekaar is ons geensins besig om afbreuk te doen aan Jesus se Middelaarskap nie – Jesus is die uiteindelike Bemiddelaar van ons verlossing, want dit is deur Hom en danksy Hom en deur sy genadegawes aan ons dat ons gered word (net soos ons gebed ’n rol speel in hoe God sy seëninge uitdeel). Dit was nooit God se bedoeling dat die heiliges in die hemel afgesny of apart sal staan van die Liggaam van Christus op aarde nie. Op talle plekke in die Heilige Skrif word dit duidelik gemaak dat die heiliges in die hemel en die heiliges op aarde (om heilig te wees is waartoe elke gelowige geroep word) in kontak met mekaar is.
Lees gerus: 1 Samuel 28:12-15; Jeremia 15:1; 2 Makkabeërs 15:13-16; Matteus 17:1-3; Matteus 22:30 saam met Lukas 15:10 en 1 Korintiërs 4:9; Matteus 27:50-53; Openbaring 5:8; Openbaring 11:13.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘Nadat ’n mens die ‘Heilige Katolieke Kerk’ in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely het, volg die ‘gemeenskap van die heiliges’. Hierdie artikel is in ’n sekere sin ’n uitleg van die voorafgaande artikel. Wat is die Kerk dan anders as die vergadering van die heiliges? Die gemeenskap van die heiliges is dan juis die Kerk.’ (Par. 946)
‘Aangesien alle gelowiges één liggaam vorm, word die goedheid/welsyn van elke gelowige oorgedra op die ander gelowiges. So kan ’n mens dus aanneem dat daar in die Kerk een gemeenskap van goedheid/welsyn is. Maar die belangrikste lid is Christus, aangesien Hy die Hoof van hierdie Liggaam is. So word die rykdom van Christus (sy goedheid) deur die Sakramente van die Kerk tot alle lidmate se beskikking gestel. Die eenheid van die Gees, waardeur die Kerk gelei word, bewerk dit so dat alles wat in die Kerk byeengebring is, gemeenskaplike besit is.’ (Par. 947)
‘Die uitdrukking ‘gemeenskap van heiliges ’ bevat dus twee nouverwante betekenisse: ‘die gemeenskap van heilige sake/dinge (sancta)’ en die ‘gemeenskap tussen heilige persone (sancti)’. (Par. 948).
​
​
​
​