CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
24. GLO ONS AS KATOLIEKE DAT ’N MENS DIREK TOT GOD KAN BID?
Direkte gebed tot God is die manier hoe Katolieke bid: Elke Katolieke Christen het direkte en volle toegang tot sy/haar Hemelse Vader. Net so min as wat ’n mens probeer om direkte toegang tot God te vermy deur ander gelowiges te vra om vir jou te bid, net so min beteken ons Katolieke gebruik om God se spesiale vriende, die heiliges, te vra om vir ons te bid dat ons nie tot God wil bid nie of onwillig is om God direk te nader. Om ander gelowiges en die heiliges te vra om vir ’n mens te bid is ‘n gebruik so oud soos die Christelike geloof. St. Johannes van Damaskus (c.675-c.740) het gebed as volg omskryf: ‘Gebed is die verheffing van ’n mens se verstand en gemoed en hart tot God. Gebed behels ook ons versoeke aan God, dié goeie dinge wat ons benodig vra ons van God.’
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK haal St. Gregorius Nazianzus (329-389) aan en maak die volgende stelling oor gebed: ‘In die Nuwe Verbond is gebed die lewende verhouding van die kinders van God met hul oneindige goeie Vader, met sy Seun Jesus Christus en met die Heilige Gees. Die genade van God se koninkryk bestaan in ‘die vereniging van die hele Heilige Drie-eenheid met die menslike gees’. Sodoende beteken die gebedslewe die volgende: Die gewoonte om in die aanwesigheid van die Drie-enige God te verkeer en in gemeenskap met Hom te wees. Hierdie gemeenskap van lewe is altyd moontlik omdat ons deur die Doop één en dieselfde wese met Christus geword het. Ons gebed is Christelik in soverre dit in gemeenskap met Christus is en deur die Kerk, wat Christus se Liggaam is, versprei word. Christelike gebed reik so wyd as wat die liefde van Christus uitreik.’ (Par. 2526).
Die Here stel dit duidelik dat waar twee of drie in sy Naam bymekaar kom om te bid Hy aanwesig is: Ons Christene bid saam met mekaar en ons bid vir mekaar. Die Liggaam van Christus, die Kerk, is nie net beperk tot hierdie tydelike sigbare wêreld nie – die Liggaam van Christus sluit almal in wat in Christus gedoop is en in Hom gesterf het. Om ’n medegelowige te vra om vir jou te bid (of daardie medegelowige nog op aarde is of alreeds in die hiernamaals) is die natuurlikste ding vir ’n Christen om te doen.
Lees gerus: Psalm 95:1-6; Johannes 14:6; Johannes 14:13-16; Johannes 16:24; Romeine 8:16; Romeine 16:25-27; 1 Korintiërs 8:6; 1 Korintiërs 16:22; Efesiërs 3:18-21; Efesiërs 5:19; Kolossense 3:16; Judas 24-25, Openbaring 19:1-8.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘Christelike gebed is ’n verhouding van verbond tussen God en die mens in Christus. Die Christelike gebed is ’n handeling wat beide menslik en goddelik is: Gebed kom voort sowel uit die Heilige Gees as uit ons, en dit is heeltemaal gerig op die Vader. Gebed kan gesien word as ons eie vereniging met die menslike wil van die Mensgeworde Seun van God.’ (Par. 2564)
​
​
​
​