CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
23. HOEKOM ONDERSKEI ONS AS KATOLIEKE TUSSEN DOODSONDE EN DAAGLIKSE SONDE?
Die onderskeid tussen doodsonde (ernstige sonde) en daaglikse sonde (klein sonde) vind ’n mens heel duidelik in die Heilige Skrif:
‘As iemand sy broeder ’n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee – vir die wat nie ’n sonde tot die dood doen nie. Daar is ’n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is ’n sonde wat nie tot die dood is nie.’ ( 1 Joh. 5:16-17).
In hierdie teks (en in ander tekste) onderskei die Bybel tussen die graad van erns van ’n betrokke sonde. Nie elke sonde lei tot geestelike dood en die verdoemenis nie, en nie alle sondes is ewe boos in die oë van God nie. Dit is natuurlik so dat geen sonde ’n goeie ding is nie; maar dit is absoluut absurd om te dink dat ’n wit leuentjie of ’n onwillekeurige gevoel van jaloesie of wellus vir God dieselfde sal wees as foltering, verkragting of moord. Die Bybel meld ook op talle plekke ’n verskil in die verantwoording wat mense vir hul sonde sal moet doen (Matt. 5:22-27; Matt. 16:27) – dit dui op verskillende vlakke van sonde (m.a.w. alle sonde is nie gelyk nie).
Die term doodsonde dui ’n baie ernstige sonde aan: So ’n sonde maak God se genade in ’n siel dood en verbreek ’n mens se verhouding en vriendskap met God. ’n Mens wat doelbewustelik die Wet van God in ernstige sake verbreek draai letterlik sy rug op God en verloën sy verhouding met God. Deur ’n doodsonde te pleeg draai jy jou rug op die ewige lewe en verruil jy jou goddelike erfenis vir ’n verbygaande plesier of voordeel. Doodsondes kan slegs deur die Sakrament van die Bieg weggewas word.
Daaglikse of klein sondes het nie so ’n verskriklike impak op ’n mens se toekoms en verhouding met God nie. Hierdie sondes mislei ’n mens weliswaar en laat jou vir ’n rukkie afdraai van die regte pad, maar laat jou darem nie die pad totaal byster raak nie. Daaglikse sondes word vergewe tydens die opregte bid van die Confiteor (Ek bely voor U, Almagtige God en voor u, my broers en susters...) aan die begin van die Heilige Mis. Hou dit in gedagte dat God Absolute Intelligensie is en dat ons verhouding met God ’n intelligente en genuanseerde verhouding is. Net soos ons menslike regstelsel nie elke misdaad presies dieselfde straf toereken nie, net so is elke sonde (wat ’n misdaad teen God is) nie van dieselfde aard nie. Elke sonde hou egter ’n gevaar vir ’n mens se siel in en daarom probeer ons so gou doenlik daarvan ontslae raak.
Hoe onderskei ’n mens tussen ’n doodsonde en ‘n daaglikse sonde?
Doodsondes is dinge wat absoluut deur God verbied word en wat ernstige gevolge dra: Doelbewustelike moord, owerspel, godslaster ens. Sondes wat teen geregtigheid gepleeg is word gemeet aan die erns van die skade wat aan ander berokken is. Die omstandighede waaronder die betrokke sonde gepleeg is moet in ag geneem word, asook die geloofskennis van die persoon (tot watter mate kon die sondaar tussen goed en kwaad onderskei?), hoe kwaadwillig die persoon opgetree het en tot watter mate sy/haar daad doelbewustelik was. ’n Persoon wat ’n doodsonde begaan het bly nog steeds ’n lidmaat van die Katolieke Kerk, maar ’n dooie lidmaat – so ’n persoon het nie toegang tot die lewegewende Liggaam en Bloed van Christus nie. Daaglikse sondes word juis so genoem omdat dit die talle klein daaglikse oortredings teen God se liefde aandui. ’n Aanhoudende en onberouvolle neiging tot daaglikse sonde kan uiteraard tot doodsonde lei. Christene wat ernstig is oor hul geloof waak net soveel teen daaglikse sondes as teen doodsondes.
Lees gerus: Matteus 5:22-26; Matteus 12:32; Matteus 16:27; Romeine 2:5-13; 1 Korintiërs 3:8-9; 1 Korintiërs3:11-15; 1 Korintiërs 6:9-10; Galasiërs 5:19-21; Efesiërs 5:5; 1 Petrus 1:17; Openbaring 22:12.
​
​
​
​