top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

22. HOEKOM BIEG ONS AS KATOLIEKE ONS SONDES VOOR ’N PRIESTER?

 

Jesus Christus het aan sy dissipels (en hul opvolgers, die biskoppe en priesters) nie net die mag gegee om sondes te ‘ontbind’ nie (d.w.s. sondes in die Naam van God te vergewe), maar ook die mag om te ‘bind’ (d.w.s. sekere boetepraktyke op te lê: Matt. 16:19; 18:18). Hierdie mag wat aan die priesters gegee is kom baie duidelik na vore in die Bybel: ‘En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.’ (Joh. 20:22-23). Christus het sy dissipels/apostels (sekere manne wat Hyself uitverkies het) dié wêreld ingestuur as verteenwoordigers van God en ambassadeurs van sy genade. Die vryspraak of absolusie wat ’n priester oor ’n biegteling uitspreek is nie ’n blote uitdrukking van hoop nie, maar ’n sakramentele, objektiewe realiteit. Deur die Sakrament van die Bieg leer ons die baie belangrike deug van nederigheid aan, ontvang ons die genadegawe om dieselfde sondes in die toekoms meer doeltreffend te kan weerstaan, en word ons sondes werklik deur dié sakrament vergewe (hierdie is ’n objektiewe kwytskelding van sondes, nie ’n subjektiewe gevoel van vergifnis nie). Hierdie Katolieke praktyk van bieg en boetedoening is deeglik gegrond in die Heilige Skrif en in die vroeë en konstante Christelike Tradisie.

 

Wat word van die biegteling verwag om ’n goeie en effektiewe bieg te maak: Opregte berou en ’n eerlike belydenis van alle doodsondes (ernstige sondes). Hierná lê die priester die een of ander boetepraktyk (boetedoening) op, waarná die biegteling sy voorneme verklaar om ernstig te probeer om nie weer te sondig nie. Nou volg die vryspraak/absolusie deur die priester waarná die biegteling dit wat hom opgelê is gaan uitvoer. Die vryspraak deur die priester verwyder die straf wat die betrokke sonde toekom. Die briljante en beroemde skrywer G.K. Chesterton het by geleentheid die volgende verklaar: ‘...die Kerk weet dat sonde wat gebieg is en waarvoor daar voldoende boete gedoen is werklik afgewas is; die sondaar kan inderdaad van voor af weer begin asof hy glad nie gesondig het nie... God het hom nou na sy eie beeltenis herskep. Die mens wat skoongewas is deur die bieg is nou ’n nuwe eksperiment van die Skepper. So ’n mens is so nuut ’n skepsel en eksperiment van God as toe hy vyf jaar oud was.’

 

Lees gerus: Levitikus 19:20-22; Numeri 5:6-7; Psalm 32:5; Spreuke 28:13; Jesaja 43:25; Matteus 3:5-6; Matteus 16:19; Matteus 18:18; Markus 1:5; Lukas 15:18-19; Johannes 20:21-23; Handelinge 19:18; 2 Korintiërs 2:10; 2 Korintiërs 5:18-20; Jakobus 5:16; 1 Johannes 1:8-9.

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg:’ Deur die Sakrament van Boete en Versoening kan die gedoopte, wat gesondig het, weer met God en die Kerk versoen word: ‘Die Kerkvaders was reg toe hulle die boetedoening ‘ ’n moeisame doop’ genoem het. Hierdie Sakrament van Boete en Versoening is lewensnoodsaaklik vir diegene wat ná hul Doop in sonde verval het. Hierdie Sakrament vervul dus dieselfde rol as wat die Doop vervul vir diegene wat nog nie in Christus herbore is nie.’ (Par. 980). ‘Dit word die Sakrament van die Bieg genoem, omdat die bekentenis, die bieg of belydenis van die sonde voor die priester, ’n wesenlike element van die sakrament is. Hierdie sakrament word ’n ‘belydenis’ in die diepe sin van die woord genoem, naamlik ’n erkenning en lofprysing van God se heiligheid en barmhartigheid teenoor die sondige mens.’ (Par. 1424).

​

​

  << Previous    |     Next >> 

​

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page