CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
21. IS BOETEDOENING ’N BYBELSE KONSEP?
In die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK lees ons: ‘Die sonde is in die eerste plek ’n belediging teenoor God, die verbreking van ons gemeenskap met Hom. Die sonde tas ook ons verhouding en gemeenskap met die Kerk aan. Daarom lei ons bekering tot God se vergifnis sowel as tot ons versoening met die Kerk, - hierdie realiteit word deur die Sakrament van Boete en Versoening liturgies uitgedruk en verwesenlik.’ (Par. 1440).
‘Elke sonde, selfs ’n daaglikse sonde, veroorsaak ’n ongesonde gehegtheid aan die een of ander skepsel. Hierdie gehegtheid aan skepsels, i.p.v. ’n gehegtheid aan die Skepper is die wortel van alle sonde. Om van hierdie ongesonde gehegtheid bevry te word het ’n mens ’n tipe loutering of suiwering nodig. Hierdie loutering/reiniging kan óf hier op aarde geskied óf ná die dood in die toestand wat die vaevuur genoem word.’ (Par. 1472).
In die Bybel is daar talle voorbeelde van mense wat boete gedoen het vir hul sondes. As gevolg van hul sonde moes Adam en Eva die Tuin van Eden verlaat (Gen. 3:17-24). As gevolg van hul ongehoorsaamheid moes die Israeliete veertig jaar lank deur die woestyn swerf (Num. 14:26-35). Omdat koning Dawid moord en owerspel gepleeg het is hy daarvoor gestraf ( 2 Sam. 12:13-14). Selfs Moses kon nie die Beloofde Land binnegaan nie; God het aan hom gesê: ‘Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.‘ (Num. 20:12; vgl. Deut. 3:25-26; 34:4). Op dieselfde wyse waarsku St. Paulus teen ’n onwaardige ontvangs van die Heilige Kommunie (1 Kor. 11:30-32). Die Bybel lê groot klem op boetedoening as teken van ons berou. Net soos sonde tot uiting kom in woord en daad, net so word ’n mens se berou vir sondes wat begaan is ook uitgedruk in woord en daad.
In Levitikus 16:21 lees ’n mens hoe Aäron opdrag gegee is om al die sondes van die volk te bely terwyl hy sy hande op die sondebok gelê het; hierna is dié bok die woestyn ingestuur. Hierdie handeling was ‘n voorafbeelding van die diens van Hoëpriester wat op die Dag van Versoening namens die hele volk ’n skuldbelydenis gedoen het (Neh. 1:6-7). In Ou Testamentiese tye moes sondaars nie net hul sondes bely nie, maar ook daarna boetedoening doen (Num. 6:17). Die gelowige Jood se godsdienstige praktyke het talle boetvaardige aksies ingesluit. Die Nuwe Testament meld boetedoening gereeld en ’n mens kan aanvaar dat dieselfde uiterlike boetepraktyke toe gegeld het as wat in die tyd van die Ou Testament algemeen was.
Lees gerus: Exodus 32:20; Numeri 14:19-23; Numeri 17:11-13; Numeri 25:11-13; Matteus 10:38; Matteus 16:19, 24; Matteus 18:18; Johannes 20:23; Romeine 8:13, 17; 1 Korintiërs 11:27, 30; 2 Korintiërs 4:10; 2 Korintiërs 11:23-30; Galasiërs 6:17; Filippense 2:17; Filippense 3:10; Kolossense 1:24; 2 Timoteus 4:6.
​
​
​
​