top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

20. HOEKOM DOOP ONS AS KATOLIEKE KLEIN?

 

In Handelinge 16:15, 33 en 18:18 (vgl. Hand.11:14), sowel as in 1 Korintiërs 1:16 lees ons hoe ’n persoon saam met sy hele huishouding gedoop is. So ’n huishouding sou uit die aard van die saak ook kinders, selfs babas (en destyds selfs die bediendes), ingesluit het. St. Paulus koppel die Doop in sy brief aan die Kolossense 2:11-13 aan die besnydenis. Die besnydenis van Joodse babaseuns het op die ouderdom van agt dae plaasgevind. Die besnydenis was die uiterlike teken van God se verbond met Abraham, die vader van die Joodse volk. Hierdie Ou Verbond met Israel is vervang met Jesus se Nuwe Verbond wat alle gelowiges insluit. (Gal. 3:14, 29). Net soos die Ou Joodse Verbond volwassenes sowel as kinders ingesluit het so sluit die Nuwe Verbond ook almal in (Gen. 17:7; Deut. 2:9-12; vgl. Matt. 19:14). Die Doop is beide ’n teken van berou sowel as van toekomstige geloof (Rom. 4:11). In die Nuwe Verbond vervang die Doop dus die besnydenis van die Ou Verbond. Die besnydenis was ’n teken van die reiniging van sonde - die Doop gaan egter verder, nie net is die Doop ’n teken van ons reiniging van sonde nie, die Doop is juis die middel waardeur ons van ons sondes gereinig word (Deut. 10:16; 30:6; Jer. 4:4; 9:24-25; Rom. 2:28-9; Fil. 3:3).

 

Babas word op dieselfde wyse as volwassenes deur God se genade gered. Dit is waar dat hulle nog nie oor die verstandelike vermoë beskik om vir Christus te kies nie, maar dit vorm deel van ’n Christelike ouer se plig om sekere geloofsbesluite namens sy/haar kind te neem. Ouers wag nie tot hul kinders groot genoeg is om self te besluit of hulle skool of kerk toe wil gaan nie: Ouerskap behels die neem van sekere lewensbelangrike besluite vir jou kind – hoeveel te meer die besluit om jou kind so vroeg moontlik in ’n verhouding met die Here te plaas! Die eerste Christene het hul kinders laat doop. Op die vraag of die doop wel iets met ’n mens se verlossing te make het, antwoord Jesus: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.’ (Joh. 3:5). Die Kerk van die Nuwe Testament het die Here se woorde ernstig opgeneem en onmiddellik alle bekeerlinge en hul huishoudings laat doop (Hand. 2:38, 41; 18:18; 19:5; 22:16). Volgens St. Paulus verkry die gelowige deur die Doop deel aan Jesus se dood en so ook deel aan sy Opstanding (Rom. 6:5). Die Doop is dus die middel/kanaal waardeur ons verlos word. Nêrens in die Bybel is daar enigsins ’n aanduiding dat die doop van kinders en babas onaanvaarbaar is nie. Vanaf die vroegste tye was die kinderdoop algemeen gebruiklik. In die 3de eeu skryf die teoloog Origenes (c.185-254): ‘Die Kerk het vanaf die Apostels die oorgelewerde gebruik ontvang om die Doop ook aan babas toe te dien, en alhoewel sulke kleintjies nie sondes van hul eie het nie, verkry hulle tog hierdeur die heiligheid en geregtigheid van Christus en word hulle aangeneem as broers van Christus, sodat hulle lidmate van Hom mag wees.’

 

By een van die vroegste Kerk konsilies, dié van Kartago in die jaar 252, is daar ’n debat oor die kinderdoop gevoer: Nie of die Doop aan babas en kinders toegedien mag word nie, maar of daar agt dae gewag moet word ná die geboorte van ’n kind (volgens die Joodse gebruik vir die besnydenis) alvorens die Doop toegedien word! Al die Kerkvaders was dit eens dat die Doop noodsaaklik is vir die wegwas van die erfsonde/oersonde waarmee elke mens gebore word. Die mees algemene vraag wat oor die kinderdoop gevra word is: ‘Hoe kan die geloof van die ouer/voog ’n substituut wees vir die geloof van die kind?’ Neem in ag dat Jesus nooit dié vraag gestel het nie. Toe Jaïrus vir Jesus gevra het om sy dogter uit die dood terug te bring (Mark. 5:22-43) of toe ’n vader Jesus gesmeek het om die duiwel uit sy seun te dryf (Mark. 9:17-27) het Jesus onmiddellik aan die ouers se geloof gehoor gegee en opgetree, nie een keer het Hy na die geloof van die kinders uitgevra nie: Dit was die ouers se geloof wat hul kinders gered het. Vanaf die begin van die Kerk se bestaan kon mense op twee maniere gedoop word: Deur onderdompeling of deur water oor die dopeling se kop uit te giet – albei maniere geskied onderwyl die formulier van die Drie-eenheid gebid word (Matt. 28:19). Nêrens skryf die Bybel vir ons voor hoe die water gebruik moet word nie (sien Hand. 8:36-37). As Katolieke glo ons dat die Doop die erfsonde in ons uitwis en aan ons die Nuwe Lewe van Christus gee (1 Kor. 15:22). Een van die Skriftekste wat die betekenis van die Doop die duidelikste na vore bring vind ’n mens in Titus 3:5: ‘Hy (het) ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees.’

 

Lees gerus: Markus 16:16; Johannes 3:5; Handelinge 2:38; Handelinge 22:16; Romeine 6:3-4; 1 Korintiërs 6:11; 1 Petrus 3:21.

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘Die Doop is die eerste en belangrikste Sakrament van die vergifnis van sondes, omdat dit ons verenig met Christus, wat gesterf het vir ons sondes en opgestaan het om ons regverdig te maak sodat ons ’n nuwe lewe kan lei.’ (Par. 977).

​

​

  << Previous    |     Next >> 

​

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page