top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

18. HOEKOM GLO ONS AS KATOLIEKE DAT DIE SAKRAMENTE NOODSAAKLIK IS VIR ONS VERLOSSING?

 

Die belangrike rol wat die sakramente in ons geloofslewens speel kom voort uit die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom: God het mens geword. Die feit dat God mens geword het beteken dat alle mense oor die moontlikheid beskik om verlos te word. Die materiële/stoflike kan nou huisvesting bied aan die Goddelike en draers word van die Goddelike. God het menslike vlees aangeneem – God het dus in Jesus Christus oor ’n stoflike liggaam beskik nes ons s’n! Hierdie feit vorm die basis van ons Katolieke sakramentele beginsel. Die sakramente kom dus voort uit die Menswording/Inkarnasie van God: God het deur die persoon van Jesus Christus die stoflike/materiële gebruik om Homself aan ons te openbaar.

 

Op talle plekke in die Heilige Skrif word God se genadegawes aan mense deurgegee deur die een of ander materiële medium. Deur die water van die Doop verkry ons nuwe lewe ( Hand. 2:38; 22:16; 1 Pet. 3:21). Deur die ‘doeke of voorskote’ wat aan St. Paulus se lyf was aan te raak het mense gesond geword (Hand. 19:11-12). Deur aan Jesus se kleed te vat (Matt. 9:20-22) en deur die aanraking van sy spoeg wat met grond gemeng was (Joh. 9:6; Mark. 8:22-25) is mense gesond gemaak. Op dieselfde wyse kon iemand wat homself in die Siloambad gaan was het genees word (Joh. 9:7). Die vroeë Christene is aangemoedig om hulself met olie te laat salf (Jak. 5:14). Deur die Apostels wat hul hande op iemand gelê het is so ’n persoon gewy en het hy deur hierdie fisiese teken die opdrag ontvang om Christus te gaan verkondig (Hand. 6:6). Handoplegging het verder die ontvangs van die Heilige Gees tot gevolg gehad (Hand. 13:13) en ook genesing laat geskied (Hand. 9:17-18).

 

As Katolieke glo ons dat Jesus die sakramente ingestel het en dat ons sonder hulle nie ’n volle geloofslewe kan lei nie:

​

• Die DOOP: ‘Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees...’ (Matt. 28:19)


• Die EUCHARISTIE: ‘Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my Liggaam wat aan julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.’ (Luk. 22:19)


• BOETEDOENING EN VERSOENING: ... alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.’ (Matt. 18:18; vgl. Matt. 16:19 en Joh. 20:23).

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg: ‘Die Griekse woord mysterion word op twee maniere in Latyn vertaal: mysterium en sacramentum. Die term sacramentum wys eerder op die uiterlike sigbare teken van die verborge verlossingswerk. Die term mysterium dui weer meer op die realiteit van ons verlossing wat deur die uiterlike tekens bewerkstellig word. In hierdie sin is Christus self die heilsmisterie: Daar is geen ander misterie van God as Christus self nie. Die heilswerk van sy heilige en heiligmakende mensheid is die sakrament van ons heil/verlossing wat sigbaar word en werksaam is in die sakramente van die Kerk (in die Oosterse Kerke staan die sakramente dan ook bekend as die ‘Heilige Misteries’). Die Sewe Sakramente is die tekens en instrumente waarmee die Heilige Gees die genade van Christus versprei in die Kerk, waarvan Hy, Christus, die Hoof is en wat sy Liggaam is. Die Kerk bevat dus die onsigbare genade waarvan sy self die sigbare teken is en gee dit aan haar lidmate deur. Op hierdie wyse is die Kerk dus ook ’n ‘sakrament’.’ (Par. 774).

​

​

  << Previous    |     Next >> 

 

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page