CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
17. HOE KAN ONS AS KATOLIEKE GLO DAT MARIA LIGGAAMLIK IN DIE HEMEL OPGENEEM IS TERWYL DIE BYBEL DIT GLAD NIE MELD NIE?
As Katolieke glo ons dat geen Kerkleerstelling en die Bybel mekaar ooit kan weerspreek nie. Ons weet ook dat ons geloof op twee bene rus: Die Heilige Skrif en die Heilige Tradisie. Dié twee vul mekaar aan en kan nooit van mekaar geskei word nie. Die Bybel word geïnterpreteer in die lig van wat die geloofsgemeenskap (die Kerk) nog altyd geglo het, m.a.w. soos die geloof vanaf die tyd van die Apostels van een generasie na die volgende oorgelewer is. Die Bybel het nie uit die hemel geval en het ook nie in ’n lugleegte ontstaan nie: Die Nuwe Testament is die geskrewe dokumentasie van die geloofservaring van die eerste geslag Christene. Tog maak die Nuwe Testament nêrens daarop aanspraak dat dit allesomvattend is en absoluut alles bevat wat die eerste Christene geglo en beoefen het nie. ’n Deel van die Tradisie is neergeskryf en het so die boeke van Heilige Skrif gevorm, ’n deel van die Tradisie is mondelings oorgelewer en het neerslag gevind in die vroeë Christene se manier van aanbidding.
In baie gevalle was dit net nie nodig om iets neer te skryf nie, omdat almal dit geglo het. Maria se liggaamlike opneming in die hemel is iets wat van baie vroeg af deur Christene aanvaar en geglo is: Nêrens word dit in die Bybel weerspreek nie en dit stem ook heeltemaal ooreen met haar rol as Theotokos (hierdie antieke titel vir Maria beteken letterlik Goddraer – sy is die een wat God in haar skoot gedra het). As die sondelose een, die een wat so gevul was met genade dat die sonde geen vashouplek op haar lewe gehad het nie, is dit net logies dat sy ook die liggaamlike dood – die straf op die sonde – gespaar sou bly (Gen. 3:16-19). As dit nie vir die sondeval was nie sou geen mens ooit gesterf het nie. Maria is die uitsondering, en dit vir ’n baie goeie rede, sy is die voorloper van dié opstanding wat almal wat gered is sal ervaar (1 Kor. 15:12-23; vgl. Matt. 27:52-53).
Die oorlewering dat Maria nie liggaamlik gesterf het nie, maar aan die einde van haar aardse lewe liggaamlik in die hemel opgeneem is, is een van die oudste Christelike tradisies – die Oosterse Christene noem dit die dormissie (aan die slaap raak) van Onse Liewe Vrou. Daar is niks in die Heilige Skrif wat hierdie tradisie as ongeloofbaar afskryf nie, inteendeel, op verskeie plekke in die Bybel lees ons wel van gewone mense wat liggaamlik in die hemel opgeneem is sonder dat hulle gesterf het: Henog (Hebr. 11:5; vgl. Gen. 5:24), Elia (2 Kon. 2:1, 11), asook al diegene wat tydens die Wederkoms nog op aarde sal wees (1 Tess. 4:15-17). As die Opvolger van die Heilige Petrus en in sy uitoefening van sy amp het Pous Pius XII in sy Apostoliese Konstitusie Munificentissimus Deus, op die 1ste November, 1950, hierdie antieke geloof van die Kerk tot ’n amptelike dogma verklaar:
‘Deur die gesag van onse Here Jesus Christus, van die geseënde apostels Petrus en Paulus, soos aan ons toevertrou is, verklaar en definieer ons as ’n dogma, deur God geopenbaar, dié feit dat die Onbevlekte Moeder van God, die Altyd Maagdelike Maria, aan die einde van haar aardse lewe, liggaam en siel in die heerlikheid van die hemel opgeneem is.’
Hierdie groot plegtigheid word jaarliks op die 15de Augustus gevier.
Lees gerus: Psalm 16:10; Lukas 1:28-31 saam met Sefanja 3:14-17; 1 Korintiërs 15:26; 2 Korintiërs 12:2-4; Hebreërs 2:14-18; Openbaring 12:1, 5, 17.
​
​
​