CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
8. HOEKOM GLO ONS AS KATOLIEKE DAT JESUS ’N POUS AS HOOF VAN SY KERK OP AARDE AANGESTEL HET?
In Matteus 16:18-19 vind ’n mens ’n direkte verwysing na die instelling van die pousskap: ‘... Jy is Petrus (wat letterlik ‘die Rots’ beteken), en op hierdie rots sal Ek my Kerk (ongelukkig word die oorspronklike Griekse woord hier dikwels foutiewelik en doelbewustelik in Afrikaans vertaal as gemeente) bou ... Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee ...’. Hierdie Skrifteks maak dit duidelik dat Jesus aan St. Petrus die opdrag gegee het om die eerste pous (wat vader beteken) en hoof van sy Kerk te wees. Enige naamsverandering in die Bybel het diep betekenis en Christus het spesifiek Simon se naam na Petrus verander om ’n groot waarheid aan ons deur te gee. Hierdie is dan ook wat die ander apostels en die eerste Christene geglo het. Christus sou nie so ’n amp ingestel het om net vir die leeftyd van Petrus te duur nie. Wat dan van die toekoms van sy Kerk? Die aanstelling van Petrus was bedoel om oorgedra te word van die een generasie na die volgende, vir so lank as wat die Kerk bestaan. Weereens is dit wat die eerste geslag Christene en hul opvolgers geglo het. In die Nuwe Testament word St. Petrus duidelik uitgebeeld as die hoof van die apostels. Soos gebruiklik is ’n persoon in so ’n geestelike gesagsposisie aangespreek as vader (die Griekse woord papas wat in Afrikaans as pous vertaal word).
Alhoewel die Heilige Skrif deur gewone sondige en feilbare mense geskryf is glo ons as Christene dat God dié skrywers geïnspireer het sodat die inligting waaroor ons in die Bybel beskik God se eie waarheid is. Net so glo ons dat alhoewel die pouse deur die eeue gewone sondige en feilbare mense was, God deur die Heilige Gees (Joh. 14-16) sy Kerk en dus die hoof van sy Kerk van dwaling bewaar. Wanneer die pous dus in sy hoedanigheid as Hoof van die Kerk en onder sekere omskrewe omstandighede ’n uitspraak oor bepaalde aspekte van die geloof maak, glo ons dat so ’n uitspraak onfeilbaar van krag is. Danksy die amp van die pous kon die Katolieke Kerk vir die afgelope tweeduisend jaar die oorspronklike en ware geloof van die apostels en die eerste geslag Christene ongeskonde oordra. Die pousskap is ons waarborg van eenheid en sekerheid (wat dogma en teologie betref) en dit gee aan die Universele Kerk (katoliek beteken universeel, m.a.w. wêreldwyd) ’n ongeëwenaarde sigbaarheid.
Lees gerus: Matteus 16:17-19 (vergelyk met Jesaja 22:22); Matteus 17:24-27; Markus 16:7; Lukas 22:2; Johannes 21:15-17; Handelinge 2:14-36; Handelinge 3:6-12; Handelinge 5:2-11; Handelinge 15:7-11; 1 Petrus 5:1.
​
​
​