top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

6. HOEKOM SLUIT KATOLIEKE BYBELS DIE DEUTERO-KANONIEKE BOEKE IN TERWYL PROTESTANTSE BYBELS DIÉ BOEKE WEGLAAT?

 

Die Ou Testament in Katolieke Bybels bevat 7 boeke wat nie in Protestantse Bybels voorkom nie. In totaal bestaan die Katolieke Ou Testament dus uit 46 boeke terwyl die Protestantse Ou Testament 39 boeke bevat. Protestante noem hierdie sewe ekstra boeke ‘apokriewe’ (wat verborge beteken). Ons Katolieke noem hierdie sewe boeke die ‘deutero-kanonieke’ (oftewel die tweede kanon) boeke. Hierdie sewe boeke is as volg: Tobias, Judit, 1 en 2 Makkabeërs, die Wysheid van Salomo, Sirag (ook bekend as Ekklesiastikus) en Barug. Hierdie sewe boeke kom voor in die Septuagint, die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament wat in die 3de eeu voor Christus gemaak is. Alhoewel sommige van hierdie boeke waarskynlik ook oorspronklik in Hebreeus of Aramees geskryf is beskik ons slegs oor die Griekse weergawe van dié tekste. Die Septuagint was die Bybel van die apostels en die vroeë Christene. Die Kerk Konsilies van Hippo (393) en Kartago (397 en 419) waar daar finaal uitsluitsel gegee is oor watter boeke in die versameling van die Bybel opgeneem sou word het ook die Septuagint gebruik en dié Deutero-Kanonieke boeke is dus outomaties daarin opgeneem.

 

Vir meer as ’n duisend jaar is dié boeke dus universeel deur die hele Kerk aanvaar en gebruik. Die Kerk Konsilie van Trente het in die 16de eeu weer bevestig dat dié boeke deel uitmaak van die geïnspireerde Heilige Skrif. Die vroegste Griekse manuskripte van die Ou Testament waaroor ons beskik, die Codex Sinaiticus (4de eeu) en Codex Alexandrinus (c.450) sluit die Deutero-Kanonieke boeke in. Ons eie Nuwe Testament verwys op verskeie plekke na teksgedeeltes uit die Deutero-Kanonieke boeke. Openbaring 1:4 en 8:3-4 verwys na Tobias 12:15. In 1 Korintiërs 15:29 het St. Paulus duidelik die teks van 2 Makkabeërs 12:44 in gedagte, terwyl Hebreërs 11:35 weer die gedagtegang van 2 Makkabeërs 7:29 opneem. Toe die voormalige monnik Martin Luther en sy volgelinge in die 16de eeu weggebreek het van die Katolieke Kerk en so die sogenaamde Protestantse hervorming begin het was hy onder die verkeerde indruk dat die Hebreeuse Ou Testament kwansuis die ouer en dus oorspronklike weergawe van die Bybel is.

 

Hy het die Griekse vertaling (die Septuagint) verwerp onder die indruk dat dit latere byvoegsels bevat en ook omdat dié boeke teologiese idees bevat het waarmee hy nie saamgestem het nie, o.a. vind ’n mens in Makkabeërs ’n duidelike verwysing na die effektiwiteit van gebede vir die afgestorwenes (Protestante glo nie dat ons gebede vir ons oorledenes of hulle gebede vir ons van enige nut is nie). Luther en sy volgelinge het dus verklaar dat die Deutero-Kanonieke boeke gevolglik nie in die Bybel hoort nie en sedertdien verskyn hulle meestal nie in Protestantse weergawes van die Bybel nie. Wat ’n mens opval by die lees van dié boeke is hoe goed hulle inpas by die styl van die res van die Ou Testament. Tobias vertoon baie ooreenkomste met Job terwyl Judit weer aan Ester herinner. 1 en 2 Makkabeërs is historiese verhale soortgelyk aan die boeke van Konings en Kronieke, terwyl Barug weer profetiese literatuur is wat by die boek Jeremia aansluit.

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg:’Dit is die Apostoliese Oorlewering wat die Kerk laat onderskei watter geskrifte gereken kan word tot die lys van Heilige Boeke. Hierdie lys staan bekend as die ‘kanon’ van die Skrif.’ (Par. 120).

​

​

  << Previous    |     Next >> 

​

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page