top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

5. WAAR KOM DIE BYBEL VANDAAN EN WATTER ROL SPEEL DIE BYBEL IN DIE KATOLIEKE GELOOF?

​

Die Bybel het nie uit die hemel neergedaal nie en dit is ook nie in sy geheel net so aan ons gegee soos Moses die Tien Gebooie ontvang het nie. Die Bybel is natuurlik nie een boek nie, maar ’n versameling uiteenlopende boeke wat deur baie verskillende mense geskryf is. Hierdie boeke is oor ’n tydperk van honderde jare in verskillende plekke en onder verskillende omstandighede geskryf. Ons moet ook in gedagte hou dat die verskillende boeke van die Bybel met verskillende oogmerke of doelwitte geskryf is: Sommige van die boeke is blote geskiedenis, ander weer bevat gedigte of gesange, sekere boeke het met wysheid of profesieë te make terwyl ander weer geskryf is om sekere gebeure in die lang verhaal van Israel se verhouding met God te verduidelik. Ons glo dat die mense wat dié boeke geskryf het (dié boeke wat eers baie later byeengebring en opgeneem is in een versameling: Die Bybel) deur God geïnspireer is. Om te sê iemand is deur God geïnspireer beteken ons glo dat ’n sekere persoon ’n boodskap van God gekry het om aan die mense oor te dra en dat dié boodskap vandag nog vir ons van belang is. Alhoewel die boodskap dus aanvanklik vir ’n sekere groep mense in hul spesifieke omstandighede bedoel was kan ons vandag nog baat vind by dié boodskap. God werk dus deur ’n menslike skrywer. Die skrywer bly ’n kind van sy eie tyd en kultuur en die boodskap wat aan ons oorgedra word is dus dikwels in die omhulsel van ’n ander manier van dink en doen as wat ons dit vandag sou verwoord. Die skrywers van die Bybelboeke se doel was om God se boodskap oor te dra, nie om wetenskaplike kennis aan ons deur te gee waaroor hulle nie destyds beskik het nie. Katolieke ag die Bybel baie hoog (‘onkunde omtrent die Bybel is onkunde omtrent Jesus Christus’, het St. Hieronymus gesê) – die Heilige Skrif vorm saam met die Tradisie (die geloof en gebruike wat mondelings vanaf die Apostels aan die eerste generasie Christene oorgelewer is) die fondament van ons geloof. Die Bybel is die Kerk se handleiding en die verantwoordelikheid berus by die Kerk om die Bybel in elke tydperk vir elke nuwe generasie Christene te interpreteer en uit te lê. Die Kerk is in ’n sekere sin ouer as die Bybel.

 

Die eerste Christene het slegs die Joodse Bybel, m.a.w. ons huidige Ou Testament gehad. Binne die eerste honderd jaar van die Kerk se bestaan is talle ander geskrifte neergepen wat later die Nuwe Testament sou word. Daar was dus onder die vroeë Christene ’n aantal geskrifte wat die rondte gedoen het. Nie al hierdie geskrifte is destyds as ewe geïnspireerd beskou nie en daar was nogal ’n bietjie verwarring. Uiteindelik moes daar besluit word op ’n kanon (letterlik ’n maatstaf waarmee iets gemeet word) van boeke wat deur die hele Kerk aanvaar kon word. St. Athanasius (c.296-373) die Biskop van Alexandrië in Egipte het in die jaar 367 ’n lys van 27 boeke saamgestel (dieselfde 27 boeke wat vandag ons Nuwe Testament uitmaak) wat hy as geïnspireerd beskou het. Uiteindelik is daar op ’n Kerk Konsilie wat in die jaar 397 in Kartago in Noord-Afrika gehou is finaal besluit op watter boeke in die kanon van die Bybel opgeneem kan word. Dit was dus die Kerk wat finaal besluit het hoe die Bybel daar sou uitsien. Hierdie geskiedkundige feit skep ’n probleem vir diegene wat daaraan hou dat ons Christelike geloof slegs op die Heilige Skrif (sola Scriptura) moet berus – dit was dan die Kerk, gegrond op die Tradisie van die Apostels, wat die Bybel soos ons hom vandag ken saamgestel en van die een generasie na die volgende oorgedra het. Dit is die Kerk wat die waarheid van die Bybel waarborg en bewaar.

 

Lees gerus: Johannes 20:30; Johannes 21:25; Handelinge 2:42; 2 Tessalonisense 2:15; 2 Tessalonisense 3:6 met Galasiërs 1:9 en 1 Tessalonisense 2:13; 2 Timoteus 1:13-14; 2 Timoteus 2:2.

​

​

  << Previous    |     Next >> 

 

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page