CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
4. HOEKOM GLO ONS DAT CHRISTUS 'N KERK GESTIG HET?
As Katolieke glo ons dat Christus ’n Kerk begin het (Matt. 16:18-19) wat ’n konkrete en sigbare instelling is en wat ononderbroke vir tweeduisend jaar al bestaan het. Ons glo dat sigbare eenheid ’n kenmerk van hierdie Kerk van Christus is. Die Kerk is dus beide ’n lewende organisme (geloofsgemeenskap) en ’n organisasie (met strukture). Die doel van die Kerk is om ‘ortodoksie’ (ware geloof) deur die eeue te bewaar en van een generasie na die volgende oor te lewer. In elke tydperk van die menslike geskiedenis word die Kerk uitgedaag om die ewige onveranderbare Waarheid aan mense oor te dra. Soos die volk Israel die Verbondsvolk van die Ou Verbond was so word die Kerk die Verbondsvolk van die Nuwe Verbond. In die Kerk wat Christus gestig het is die biskoppe die herders van die volk van God. Die eenheid van Christus se Kerk word bewaar deur eenheid/kommunie wat al die biskoppe van die wêreld onderling met mekaar en met die Biskop van Rome, die Pous, handhaaf. Die Pous is die Opvolger van die Heilige Petrus (die petros oftewel rots waarop Christus sy Kerk gebou het), wat die Hoof van die Apostels was – die Pous is dus die Opperherder van Christus se Kerk op aarde. Hierdie besondere Kerklike organisasie is deur Christus Self ingestel en so onveranderd deur die eeue heen behou. Jesus se beskrywing van Christene en die Kerk as ’n stad wat op ’n bergtop geleë is(Matt. 5:14-16) is ’n duidelike verwysing na die sigbaarheid van die Kerk. Ongelukkig vind ’n mens doelbewustelike pogings in Afrikaanse Bybelvertalings om die bergip ‘Kerk’ af te water deur dikwels die Griekse woord ‘ekklesia’, wat ‘Kerk’ beteken, met die woord ‘gemeente’ te vertaal.
Lees gerus: Matteus 18:15-17; Johannes 17:21-23; Handelinge 1:20; Handelinge 8:14-24; Handelinge 15:1-29; Handelinge 20:28-31; Romeine 13:13; Romeine 16:17; 1 Korintiërs 1:10-13; 1 Korintiërs 12:12-27; 1 Timoteus 3:1-4; 2 Timoteus 4:1-5; 1 Petrus 5:1.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg:’ In die Nuwe Testament word die gemeente van Christus ‘Ekklesia’ genoem, wat letterlik ‘byeenroeping’ beteken (van die Griekse ek-katein, ‘na buite roep’). Die woord ‘ekklesia’ (Latyn: ecclesia, Frans: église) dui die godsdienstige byeenkomste van die volk aan. In die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint) word dié term dikwels gebruik vir die byeenkomste van die uitverkore volk, veral toe hulle by die berg Sinaï bymekaargekom het en daar die Wet ontvang het en so die heilige volk van God geword het. Deur hulleself ‘ekklesia’ te noem het die vroeë Christene bekend gemaak dat hulle hulself as die opvolgers van die uitverkore volk Israël beskou. In die ‘ekklesia’ roep God sy volk vanuit die uithoeke van die aarde byeen. Die term ‘kyriaké’ waarvan die Afrikaanse en Nederlandse woord ‘kerk’, asook die Duitse ‘Kirche’ en Engelse ‘church’ afgelei is, hou verband met die Griekse woord vir Here, naamlik Kyrios, en beteken letterlik ‘dit wat aan die Here behoort’. (Par. 751)
‘In ons Christelike taalgebruik beteken die woord ‘ekklesia’ (kerk) die liturgiese byeenkoms, sowel die plaaslike gemeenskap van gelowiges asook die hele universele gemeenskap van gelowiges. Hierdie drie betekenisse van die woord ‘kerk’ kan eintlik nie van mekaar geskei word nie. Die ‘Kerk’ is dus die volk wat God in die hele wêreld versamel. Hierdie volk van God bestaan uit plaaslike gemeenskappe en word ’n werklike geloofsgemeenskap deur die liturgiese, en veral die Eucharistiese, byeenkomste. Hierdie universele geloofsgemeenskap leef van die Woord en van die Liggaam van Christus en word so self die Liggaam van Christus.’ (Par. 752).
​
​
​