top of page

CATHOLIC PRACTICES

  << Previous    |     Next >> 

​

3. HOEKOM GLO ONS DAT GOD DRIE-ENIG IS?

 

Die Bybel leer ons dat daar slegs een God is. Tog maak die Heilige Skrif dit ook heel duidelik dat daar drie Persone (Vader, Seun en Heilige Gees) in God is. In die Heilige Drie-eenheid vind ons as’t ware ’n kykie in die innerlike lewe van God. Hou dit in gedagte dat die begrip van God as Drie-eenheid geen mensgemaakte uitvindsel of idee is nie – God openbaar Homself in die Heilige Skrif en deur die Tradisie van die Kerk as Een God in Drie Persone. Ons moet dit wat God omtrent Homself aan ons openbaar het aanvaar alhoewel dit dalk moeilik mag wees om dit ten volle te begryp. Deur die eeue is daar van baie beelde gebruik gemaak om dié groot geheimenis te probeer uiteensit. Die oudste Christelike tradisie in Afrika, dié van Etiopië gebruik die volgende aangrypende beeldspraak: God die Vader is Son, God die Seun is die sonstrale en God die Heilige Gees is die hitte wat die son uitstraal. In die Geloofsbelydenis van St. Athanasius (uit die vyfde eeu) vind ’n mens die volgende omskrywing van die Heilige Drie-eenheid: So is daar dan een Vader, nie drie Vaders nie; een Seun, nie drie Seuns nie; een Heilige Gees, nie drie Heilige Geeste nie. En in hierdie Drieheid is niks eerste of laaste nie; niks meeste of minste nie; maar die ganse Drie Persone het gelyke ewigheid en is volkome aan mekaar gelyk; sodat in alle opsigte, soos alreeds gesê is, die Eenheid in die Drieheid, en die Drieheid in die Eenheid geëer moet word. Wie dus salig wil word, hy moet so oor die Drie-eenheid dink.

 

Lees gerus: Matteus 12:31; Matteus 28:19; Johannes 10:17-18 met Romeine 8:11 en Galasiërs 1:1; Johannes 14:23 met Romeine 8:9-11 en 1 Korintiërs 3:16-17; Johannes 16:7-8; Johannes 17:21-23; Handelinge 5:3-4,9; Handelinge 13:2-4; Handelinge 16:6-7; Handelinge 20:28; Handelinge 28:25 met Jesaja 6:8-10; 1 Korintiërs 8:5-6; 2 Korintiërs 13:13; Hebreërs 9:14; Hebreërs 10:29; 1 Petrus 1:2; 1 Johannes 5:7-8.

 

Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg:’Jesus self bevestig dat God ‘ die enigste Here’ is en dat ons Hom met ‘ons hele hart, ons hele siel en al ons verstand en krag moet liefhê’. Tegelykertyd maak Jesus dit ook duidelik dat Hy self ‘die Here’ is. Die belydenis dat ‘Jesus die Here’ is vorm die grondslag van die Christelike geloof. Hierdie geloof is nie in stryd met ons geloof in God, die Enige Vader, nie. Net so bring ons geloof in die Heilige Gees, wat Here en Lewegewer is, geen skeiding in die één God nie. Ons glo vas en verklaar dat daar één ware God is, ewig, onmeetlik groot en onveranderlik, onbegryplik, almagtig en onuitspreeklik, Vader, Seun en Heilige Gees: Drie persone maar één wese, één substansie, d.w.s. één enkelvoudige natuur’. (Par. 202).

​

​

  << Previous    |     Next >> 

 

 

Back to KATOLIEKE ANTWOORDE

​

 

 

 

bottom of page