CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
2. HOEKOM GLO ONS DAT JESUS WERKLIK GOD IS?
Die geloof dat God vlees aangeneem en so ’n mens geword het is iets wat die Christendom van alle ander godsdienste onderskei. Die Heilige Skrif maak dit baie duidelik dat Jesus ’n mens was maar ook werklik God is: Hy is die Vleesgeworde Woord van God. Ons noem dié gebeurtenis die INKARNASIE (letterlik die vleeswording van God). In die Bybel lees ons hoe feitlik elke eienskap van God, wat Homself in die Ou Testament aan Abraham en sy nageslag geopenbaar het, ook op Jesus van toepassing is. Jesus het met Goddelike gesag gepraat en het openlik verklaar dat Hy gelyk aan die Vader is: ‘Ek en die Vader is een.’ (Joh. 10:30). Jesus het bely dat Hy al van ewigheid af bestaan het: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.’ (Joh. 8:38). In die Nuwe Testament vind ’n mens telkens ’n bevestiging van Jesus se Godheid: ‘Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik.’ (Kol. 2:9). Jesus Christus is dus die Mensgeworde Woord van God: ‘...die Woord was by God, en die Woord was God...en die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon..’ (Joh. 1:1,14). Die Griekse woord vir ‘Here’ naamlik Kyrios (wat slegs gebruik is om na God te verwys) word regdeur die Nuwe Testament gebruik om na Jesus te verwys (byv. Rom 10:9; 1 Kor. 1:2). Reg vanaf die begin van die Kerk se bestaan het Christene hulle geloof in Jesus se Godheid bely – diegene wat nie hiermee saamgestem het nie is nie as Christene beskou nie.
Lees gerus: Matteus 28:9, 17-20; Johannes 1:1-5, 14; Johannes 5:17-23; Johannes 8:58; Johannes 10:17-18, 30-33; Johannes 14:13-14; Johannes 16:23-26; Johannes 20:28; Handelinge 7:59; Romeine 9:5; Filippense 2:5-6; Kolossense 1:15-19; Kolossense 2:9-10; Kolossense 3:11; 1 Timoteus 3:16; Titus 2:13; Hebreërs 1:1-8; 2 Petrus 1:1; 1 Johannes 3:5; Openbaring 19:16.
Die KATEGISMUS VAN DIE KATOLIEKE KERK stel dit as volg:’ Ons geloof in God, die Almagtige Vader, word somtyds op die proef gestel deur ons eie ervaring van die kwaad en van lyding. Soms kan dit vir ons lyk asof God afwesig is en nie in staat is om die kwaad te verhinder nie. God die Vader het sy almagtigheid op die mees misterievolle manier geopenbaar deur die vrywillige vernedering en verrysenis van sy Seun, waardeur Hy die kwaad oorwin het. So is die gekruisigde Christus ‘die krag van God en die wysheid van God’. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.’ (1 Kor. 1:24-25). In die verrysenis en die verheffing van Christus het die Vader die ‘krag van sy sterkte’ (Efes. 1:19) ontplooi en getoon ‘wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo’ (Efes. 1:19-22). (Par. 272).
​
​
​