CATHOLIC PRACTICES
Sermon Notes | Church Documents | Devotions | Catholic Beliefs | Catholic Practices | Lives of the Saints | Sacraments | Registration of the Sacraments
​
​
​
​
1. HOE OPENBAAR GOD HOMSELF AAN ONS?
As Katolieke glo ons dat God Homself hoofsaaklik op twee maniere aan die mens openbaar: Deur sy geskrewe Woord, die Heilige Skrif, en deur die Kerk, wat die gesag het om die Bybel te interpreteer volgens ‘n ononderbroke Tradisie wat teruggaan na die Apostels. Die Bybel en Tradisie kan nie van mekaar geskei word nie. God is egter baie groter as die Bybel en die Kerk. Dit is dus ook waar dat individue God kan leer ken, selfs al het hulle nog nooit die evangelie (‘goeie nuus’) van Jesus Christus gehoor nie: God is aanwesig in sy Skepping en dus ook tot ’n mate in elke skepsel. As mense beskik ons oor ingeboude wette (’n gewete) en verstand waarmee ons op ons eie ’n bietjie oor God kan uitvind. M.a.w. deur net om jouself rond te kyk, na hierdie pragtige skepping waarin jy jouself bevind, en deur na jouself te kyk, hoe jy as mens so volmaak geskep is, kan jy bewus word dat daar ’n Skepper is. Hierdie noem ons Natuurlike Openbaring - dit is egter ’n beperkte openbaring: Deur die natuur kan ons agterkom dat daar wel ’n God, ’n Skepper, bestaan, maar nie veel meer as dit nie. Op dieselfde wyse kan ’n mens iets omtrent God uitvind in die verskillende nie-Christelike godsdienste van die wêreld. As Katolieke glo ons nie dat ander godsdienste sleg is nie – ons glo wel dat hulle God slegs op ’n beperkte wyse openbaar (m.a.w. hulle beskik nie oor die volle waarheid oor God nie). Hulle is tot ’n groot mate mensgemaakte godsdienste – opregte pogings deur die mens om God te probeer ken. God het egter self in die verloop van die geskiedenis Homself aan die mens geopenbaar en dinge omtrent Homself aan ons bekend gemaak wat ons nie deur middel van ons menslike verstand sou kon weet nie – dit noem ons die Bo-natuurlike Openbaring. Hierdie is die openbaring wat vasgelê is in die bladsye van die Heilige Skrif. Hierdie openbaring is aanvanklik aan ’n bepaalde groep mense gemaak: Die volk van die Ou Verbond – die Israeliete. Later het God in die volheid van die tyd Homself nog verder openbaar deur sy Seun Jesus Christus wat gekom het sodat alle mense tot aan die uiteindes van die aarde kan glo: Die Nuwe Verbondsvolk, die Kerk, is die draer van hierdie universele Blye Boodskap. Ons glo dus dat die volheid van God se openbaring in die Christelike geloof te vinde is, en dat die volheid van die Christelike openbaring (God se openbaring van Homself in en deur sy Enigste Seun Jesus Christus) in die Katolieke Kerk te vinde is, wat die eerste oftewel die Oerkerk is en wat al tweeduisend jaar lank die geloof van die apostels bely en verkondig.
Dit is deur die Kerk dat die Christelike boodskap deur die eeue heen aan die mensdom deurgegee word – die Heilige Gees lei die Kerk en is ons waarborg dat die Kerk nooit van die Waarheid sal afdwaal nie. Deur die leiding van die Heilige Gees openbaar die Kerk aan ons mense Wie God eintlik is, hoe lief Hy ons het, hoe genaderyk Hy is en wat Hy van ons verwag. Die Kerk onderrig ons en leer ons hoe om as Christene te lewe. Die Kerk verduidelik en lê die Woord van God - die Bybel- vir ons uiteen. Dit wat die Kerk verkondig is altyd in ooreenstemming met die Heilige Skrif. In die Persoon van Jesus Christus vind ons die volheid van God se openbaring van Homself aan die mens en in Jesus Christus se Kerk (wat Hy gestig en agtergelaat het om sy werk voort te sit en wat deur sy Heilige Gees gelei word) word hierdie volle waarheid binne elkeen van ons se bereik geplaas.
Lees gerus: Johannes 1:1-5,14; Johannes 14:9-11; Johannes 14:26; Johannes 15:26; Johannes 16:13; Handelinge 2:42; Handelinge 20:28; Romeine 1:19-21; 1 Timoteus 3:15; Judas 3.
​
​