top of page

 LIVES OF THE SAINTS 

LIVES OF THE SAINTS

January | February | March | April May | June | July August | September | October | November | December

​

J U L I E

Julie 01-10 | July 11-20 | Julie 16-31

 

 

31: St. Ignatius van Loyola, priester

 

Hierdie besonderse man, wat sekerlik een van die beroemdste en invloedrykste manne in die geskiedenis van die Kerk sou word, is in 1491 in die Kasteel van Loyola in die noorde van Spanje gebore. Hy was afkomstig vanuit een van die oudste en edelste families in die land. Opgevoed as ‘n hofknaap in diens van koning Ferdinand V, was Ignatius van vroeg af bestem om in sy ouer broers se voetstappe te volg en ‘n roemryke loopbaan in die leër vir homself oop te kerf.

 

Dit is dan ook die pad wat hy kies en so bevind hy homself in 1521 in die stad Pampelona, onder beleg van die troepe van François I, koning van Frankryk. Vasgekeer in die stadsvesting, moedig hy die louwarm verdedigers heldhaftig aan om hulle man teen die vyand te staan. Hy word egter deur ‘n opslagkoeël vanuit ‘n kanon gewond en sy manskappe gee oor. Sy gevangenemers behandel hom goed en vervoer hom terug na sy ouers se kasteel. Sy toestand bly egter verswak en daar word gevrees vir sy lewe. Dinge raak so kritiek dat hy op die vooraand van die Fees van die heilige Petrus en Paulus die laaste sakramente ontvang. Maar die Here had ander planne vir hom. Stadig begin sy toestand verbeter en dit is tydens hierdie lang periode van herstel dat hy ‘n geestelike verdieping ondergaan.

 

Ten spyte van familiedruk om nie sy rug op die wêreld te keer nie, gaan lê Ignatius ‘n besoek af aan die welbekende pelgrimsoord en klooster van Montserrat. Dit was in hierdie gewyde plek, wat hoog op ‘n berg en moeilik bereikbaar is, dat Ignatius onder bekwame geestelike leiding werklik sy roeping in die lewe begin besef het. ‘n Staaltjie word vertel van die dag toe hy die klooster verlaat het en sy fyn en duur klere aan ‘n bedelaar by die hek gegee het. Ongelukkig vir die arme bedelaar het niemand hom geglo dat hy die pragtige klere as ‘n aalmoes ontvang het nie en is hy in die tronk gegooi. Ignatius het daarvan te hore gekom en moes die man uit sy penarie gaan red. Nadat Ignatius ‘n tyd lank as ‘n kluisenaar in ‘n afgeleë vallei deurgebring het, skryf hy sy beroemde “Geestelike Oefeninge” wat tot die klassieke onder die Christelike lektuur gereken word. Dié boek publiseer hy te Rome in 1548. Daarna voer Ignatius ‘n bietjie van ‘n swerwersbestaan waartydens hy onder meer Venesië, Siprus en die Heilige Land besoek. Terug in Spanje in 1524 studeer hy vir twee jaar in Barcelona en aan die universiteit in Alcala. In laasgenoemde stad bring hy sy vrye ure deur tussen en na klasse katkisasielesse aan kinders te gee en gebedsbyeenkomste in die hospitaal te hou. Hier sluit vier metgeselle by hom aan en wy hulle hulself toe aan ‘n lewe van armoede en ootmoed. Deur hul voorbeeld word baie bekeer. Ongelukkig was hierdie ‘n tyd toe vele ketterye in die omloop was en enige nuwe tipe van Godsdiensbeoefening is as verdag beskou. Dit is ook waar dat Ignatius en sy vriende deur hul vrome lewe baie vyande gemaak het. Hierdie mense gaan verkla hulle by die Inkwisisie en so gebeur dit dat Ignatius voor die hof gesleep word. Alhoewel hy op die aanklagte van kettery vrygespreek word, word hy tog vanweë die feit dat hy katkisasie gegee het sonder dat hy wetlik daarvoor bekwaam was, tot twee en veertig dae gevangenisstraf gevonnis. Na sy vrylating besluit hy om Spanje te verlaat en vertrek hy te voet in die middel van die winter na Parys waar hy in Februarie 1528 arriveer. Hier voltooi hy sy studies onderwyl sy kring van metgeselle al hoe groter raak. Hierdie groep jongmanne het hulself toegewy aan Goddelike studies en ‘n lewe van vervolmaking deur die getrouste navolging moontlik van Onse Heiland. Na ‘n reis na Rome waar hy en sy groepie van nege deur Pous Paulus VI ontvang is, word hulle almal in 1537 in Venesië deur die biskop van Arbe tot priesters gewy.

 

En so het die “Genootskap van Jesus” oftewel die Jesuïete tot stand gekom, wat op die 27ste September 1540 deur ‘n Pouslike Dekreet van Pous Paulus III kanoniek opgerig is. Ignatius is tot die eerste Owerste-generaal van die orde verkies. Hy het hierdie amp slegs in gehoorsaamheid aan sy biegvader aanvaar. Die Jesuïtiese Orde het vinnig gegroei en binnekort huise oor die hele Europa oopgemaak. Teen die einde van die sestiende eeu was daar al Jesuïtiese sendelinge werksaam in Marokko, Abessinië, die Kongo, Suid-Amerika en die Verre Ooste. Ignatius se stempel was baie duidelik op die leefwyses van sy seuns afgedruk. Hy was ‘n man wat die verkondiging van Gods Woord, hetsy deur die preekbediening, of deur skole en universiteite, baie ernstig opgeneem en beklemtoon het. Dit is veral deur hul puik akademiese inrigtings en voortreflike leermetodes dat Ignatius se seuns ‘n baie belangrike rol daarin gespeel het om groot gedeeltes van Europa vir die Kerk terug te wen. Tot aan die einde van sy lewe het Ignatius onverpoos homself deur middel van sy besondere talente aan die verspreiding van Gods Koninkryk gewy. Dit is waar dat hy baie streng aangedring het op ‘n leefwyse wat hy as ‘n getroue navolging van die evangeliese vermanings beskou het en dat hy deur party tydsgenote as onverbiddelik beskou is. Maar aan sy liefde vir sy God en sy Kerk was daar nooit enige twyfel nie en die vrugte wat sy arbeid voortgebring het, kan selfs vandag nog as fenomenaal bestempel word. Alreeds tydens sy leeftyd is hy deur vele as ‘n heilige beskou en afgemat maar vredevol het hy op die 31ste Julie 1556 sy gees aan sy Skepper oorgegee. In 1609 is hy deur pous Paulus V tot salige verklaar en in 1622 het pous Gregorius XV hom amptelik tot ‘n heilige van die Kerk verhef.

 

 

30: St. Petrus Chrysologus, biskop en kerkleraar

 

St. Petrus met die bynaam Chrysologus (wat goue woorde of spraak beteken en dus op sy welsprekendheid dui) is rondom 380 in Forum Cornelii by Imola gebore. Weinig is bekend oor sy lewe en dit wil voorkom asof die grootste gedeelte van sy geskrifte verlore gegaan het. Ons weet wel dat hy sy opvoeding van biskop Cornelius van Imola ontvang het.

 

In die jaar 431 word hy biskop van Ravenna, wat op daardie stadium die hoofstad van die Westelike helfte van die Romeinse Ryk was. Hy skaar hom by pous Leo die Grote in die stryd teen die ketterse Monofisiete, veral teen Eutyches van Konstantinopel. St. Petrus het die gesag van die pous ondersteun en bevorder. As prediker het hy groot bekendheid geniet en ons beskik wel oor 183 van sy preke. In ‘n tyd toe preke dikwels hoogdrawend en langdradig was staan St. Petrus Chrysologus se preke uit vir kort kragdadigheid wat ‘n groot impak op sy hoorders moes gehad het. Hy sterf op die 3de Desember 450 in Forum Cornelii. Hy is in 1729 tot Kerkleraar benoem. Tradisioneel word sy voorspraak gevra teen die koors en hondsdolheid.

 

 

 

29: St. Marta

 

St. Marta was die suster van Lasarus en Maria van Betanië – ‘n gesin vir wie Jesus baie lief was (Joh. 11). Toe Jesus die susters in Betanië besoek het, luister Maria na Jesus, terwyl Marta Hom bedien het (Luk. 10: 38-42). Sy was heel duidelik ‘n bedrywige huisvrou (Joh. 12: 1-2) wie se lewe een van diensbaarheid was.

 

Saam met haar suster Maria, was sy aanwesig toe Jesus haar broer, Lasarus, uit die dood opgewek het (Joh.11: 1-45) en het sy haar geloof in Jesus bely:  “...ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”  (Joh. 11: 27 NV). Tradisioneel word St. Marta vereer as die beskermheilige van huisvroue, kokke, bediendes en huishoudsters. Uit Tsjeggië kom die ou tradisie om op St. Marta se feesdag botter te maak en ‘n deel daarvan as brandstof vir die lampe in die kerk te skenk – die persoon wat dit doen sal verseker wees dat haar/sy koeie die komende jaar goeie melk sal lewer.

 

 

bottom of page